OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, tesame met die Eden-sportraad het besluit om die Goliath Munro-gedenklesing elke tweede jaar aan te bied. Vanjaar sal die eerste jaar wees wat dit plaasvind.
Die idee agter die inisiatief is om die gedenklesing en 'n relevante onderwerp saam te voeg. Hierdie jaar is die tema '30-Jaar van demokrasie' en die relevansie daarvan in sport in die Wes-Kaap.
Bennet Bailey, bekende sportadministrateur en kollega van wyle Goliath Munro gaan as gassprekers optree. Goliath is op 1 Januarie 2016 oorlede.
Die geleentheid vind eerskomende Saterdag, 15 Februarie, in Wildernis plaas en word gereël deur die Eden-sportraad met ondersteuning deur die departement van kultuursake en sport.
Goliath Munro was 'n skoolhoof in George en het 'n groot rol gespeel in sportadministrasie oor baie jare, nie net in die Eden-distrik nie, maar ook in die Wes-Kaap en Suid-Afrika. Gedurende sy vroeër jare as onderwyser en later as skoolhoof was hy baie aktief in skolesport en ook 'n stigterslid en later voorsitter van SWDUSSA (sambreel organisasie vir skole-sport).
Hy het ook ander rolle gevul soos president van ASWD, voorsitter van die Eden-sportraad, president van die Wes-Kaapse provinsiale sportfederasie, lid van atletiek Suid-Afrika, asook 'n lid van Nasionale Lotto-raad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’