OUDTSHOORN SPORTNUUS - Na weke se voorbereiding het agt Suid-Kaapse atlete Sondag die Sanlam Kaapse virtuele maraton op Oudtshoorn aangepak.
John April, een van die atlete wat op Oudtshoorn woon, sê die wedlope is georganiseer om kos, klere en geld vir minderbevoorregtes in te samel.
"Ek en Anderson Ncube het die inisiatief begin omdat soveel mense hul werk tydens die lockdown verloor het. Ons het opgemerk het dat daar deesdae meer kinders op straat is. Hierdie is maar net 'n klein gebaar om die druk in ons dorp te verlig. Sonder ons mede-atlete, Tonya Schoeman, Bianca la Grange, Carla Bezuidenhout, Gerrit Hendricks, Jackie Davidoff en Patrick van der Ross, asook ons borge, sou hierdie inisiatief egter nie 'n sukses kon wees nie," het hy dankbaar gesê.
April se 42 km-wedloop het reeds 06:00 Sondagoggend in Albertstraat weggespring, terwyl die res van die atlete die 21 km om 06:30 aangedurf het.
Die klere en kos is aan die bekende Sport Buddy-liefdadigheidsorganisasie oorhandig, wat dit op sy beurt aan mense in nood sal versprei.
Van links is Anderson Ncube, Danielle Hufke (Sport Buddy) en John April.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'