OUDTSHOORN NUUS - Shaun Boshoff van Langenhoven Gimnasium het homself as een van Suid-Afrika se sterkste jongmanne bewys.
Hy het op 13 Junie aan die SA Log en Deadlift-kampioenskappe deelgeneem waar hy ’n ongelooflike 284 kg gelig het. Daarmee het hy ook ’n 285 kg Afrika-rekord in die juniorafdeling opgestel.
Op 4 Julie het hy aan die SA Strongest Man 2026 deelgeneem waar hy met harde werk vrugte afgewerp het en ’n eerste plek verower het én die titel as Suid-Afrika se sterkste man (juniors) ingepalm het.
Volgens hom is dit vir hom ’n ongelooflike prestasie en ’n rekord om op trots te wees.
“Die ervaring wat ek daar gehad het was wonderlik vir my omdat dit ’n herinnering was dat almal in my sport bereid is om mekaar te help, al is hulle jou teenstander.”
Shaun vertel dat hy sy bewussyn verloor het met sy laaste logpress. “Die ander atlete was vinnig rondom my om my by te staan. Te danke aan dit kon ek aangaan en die Afrika-rekord vir deadlift kort daarna breek met ’n nuwe gewig van 285 kg.”
Volgens hom was die koue tydens die SA Strongest Man op 4 Julie definitief ’n faktor wat kompetisie moeilik gemaak het.
“Weereens het ons juniors mekaar gehelp en toerusting gedeel sodat almal van ons tot die beste van ons vermoë kan kompeteer. Wat ek wegvat van die kompetisie is dat in my sport, is julle dalk teen mekaar in voorbereiding, maar almal staan saam op die dag van kompetisie sodat almal hul beste kan gee.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’