Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS - Die opwinding loop hoog vir die komende naweek se jaarlikse interskole tussen Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Punt.
Dié tradisie, wat vanjaar vir die 32ste keer aangebied word, vind hierdie keer op Gim se sportterrein plaas.
Benewens die tradisionele sportsoorte, sal die skole ook in muurbal, debat, skaak en gholf kragte meet.
Verlede jaar het Punt oortuigend met 45 - 8 geseëvier, maar ons weet Gimmies sal Saterdag alles in die stryd werp om die beker terug te wen.
Oor sy eerste interskole as hoof van Langenhoven Gimnasium sê Carl Snyman: "Dit is vir my 'n groot eer en voorreg om hierdie, my eerste, interskole tussen Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Punt by te woon. Hierdie is veel meer as net 'n sportbyeenkoms, dit is 'n viering van tradisie, trots en die onbreekbare band wat sport tussen skole kan bou.
Video:
"Dit is die geleentheid vir twee van die beste skole in die Suid-Kaap om mekaar die stryd aan te sê, en dit op 'n manier wat getuig van karakter, respek en deursettingsvermoë. "
Só voel die onderskeie spanne se kapteins oor die interskole:
Janes van der Merwe - eerste rugbyspankaptein
- Watter spesifieke sterkpunte glo jy dat hierdie jaar se span het wat julle van die opposisie sal onderskei?
Al het ons baie terugslae gehad hierdie jaar, het ons aanhou veg.
- Hoe voel dit om jou skool se eerstespan te lei en waarop sal jy as leier fokus?
Dit is die grootste eer vir my om my skool op die veld uit te lei.
- Watter tradisies of waardes maak jou skool se rugbykultuur uniek?
Ons speel vir Jesus, vir die mense wat nie kan speel nie, vir ons skool en vir mekaar.
- Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel?
Om vir Hoërskool Oudtshoorn en Hoërskool Punt te wen.
- Watter opkomende wedstryde of toernooi sien julle die meeste na uit?
Interskole
- Is daar 'n professionele rugbyspeler na wie jy opkyk, en hoekom?
Akker van der Merwe, hy speel baie soos ek.
Esti Huggett - eerste netbalspankaptein
- Wat dink jy maak julle span hierdie jaar mededingend?
Vir meeste van ons, is dit nou die 2de jaar wat ons saam speel. Ons het as span al baie gegroei en die verhouding wat ons span tussen mekaar het is een wat ek nooit gedink het n realiteit sou word nie. Ons verstaan mekaar en dit maak ons nog sterker. 'n Span kan hoe goed wees, maar sonder kommunikasie en vertroue, is die span net so goed soos die swakste speler.
- Wat beteken dit vir jou om jou skool as 'n eerstespan-speler te verteenwoordig?
Die voorreg wat aan my gegee is om die eerste span te verteenwoordig, beteken vir my baie. Ek weet hoe baie ek opgekyk het na die eerste span toe ek in graad 8 net in die skool gekom het. Om n rolmodel te wees vir jonger speelsters en vir hulle te wys dat jy kan bereik wat jy droom as jy regtig hard werk, is een van die grootste voorregte wat ek het.
- Watter doelwitte het julle span vir die komende seisoen gestel?
Ons doelwitte vir die seisoen was om Top skole toe te gaan en interskole te wen. Alhoewel ons nie aan Top skole deelgeneem het nie, het ons steeds gekwalifiseer daarvoor en is ons steeds baie trots op onsself en ons span om ons doelwit te kon bereik.
- Watter span of toernooi beskou jy as julle grootste uitdaging hierdie seisoen?
Punt is ons grootste uitdaging.
- Watter netbalster of sportpersoonlikheid bewonder jy en hoekom juis hy of sy?
Sanmari Visser. Sy het vir NWU gespeel. Sy het vir Suid-Afrika se Fast Five-span gespeel na sy herstel het van n besering. Sy het haarself so opgespeel en ek kyk baie op na haar. Sy kan van drie voet af n bal afspring en ek probeer nou al die hele jaar on dit reg te kry.
Dané Hugo - kaptein van die eerste dogtershokkiespan
- Wat is julle span se sterkpunte hierdie jaar?
Langenhoven Gimnasium se 1ste meisiehokkiespan se sterkpunte is dat ons baie goed as 'n span saamwerk, wat ons in staat stel om doelwitte te bereik, positief tot sportdinamika by te dra en goeie vertroue tussen mekaar te bou. Ons inspireer en motiveer mekaar daagliks, wat almal deel van die span laat voel en help om na die beste van hul vermoë te presteer.
- Wat beteken dit vir jou om die skool se eerste hokkiespan te lei?
Om kaptein van die eerste meisieshokkiespan te wees, is 'n ongelooflike eer en verantwoordelikheid. Vir my beteken dit om altyd 'n positiewe, ondersteunende spankultuur te skep wat groei, spanwerk en sportmanskap bevorder. Ek fokus op die bou van sterk verhoudings met my spanmaats en afrigters, en streef daarna om ons span 'n bron van skoolgees en gemeenskapstrots te maak.
- Het jul skool `n groot hokkiekultuur en hoe belangrik is sukses vir julle span om dit te volhou?
Ons skool se hokkiekultuur is groeiend en lewendig met sterk gevoel van eenheid en skoolgees. Ons prioritiseer sportmanskap, spanwerk en persoonlike groei saam met wen. Ons doel is om stelsel te bou waarop ons skool trots kan wees, beide op en van die veld af.
- Wat wil julle as `n span in 2025 bereik?
In 2025 beoog ons as span om ons algehele prestasie en mededingendheid te verbeter, deur 'n sterk spankultuur te ontwikkel en groei en ontwikkeling vir elke speler te bevorder. Ons is altyd opgewonde om saam te werk, onsself tot nuwe hoogtes te stoot en ons skool en mekaar trots te maak.
- Watter wedstryd en/of toernooi is vir jul die spesiaalste en hoekom?
Alhoewel ons die Belgotex-toernooi baie geniet het, is die mees spesiale toernooi vir ons beslis interskole. Dit is spesiaal, want dit is 'n kans vir ons om alles wat ons deur die seisoen geleer het, toe te pas en tasbare resultate te sien. Ons kry die kans om teen ons grootste kompetisie te kompeteer, ons vaardighede te toets en ons groei as 'n span ten toon te stel. Boonop is dit die laaste wedstryd van die jaar wat dit nog meer betekenisvol maak– dit is 'n goeie manier om die seisoen af te sluit, ons vordering te vier en as 'n span te bind.
- Is daar 'n hokkiespeler of sportfiguur na wie jy opkyk, en hoe het hulle loopbaan jou benadering tot die spel beïnvloed?
Ek is geïnspireer deur Luciana Aymar, 'n Argentynse veldhokkie-legende. Haar ongelooflike vaardighede, leierskap en agtmalige FIH Speler van die Jaar-toekennings motiveer my om na uitnemendheid te streef. Aymar se loopbaan wys dat jy met toewyding, harde werk en 'n passie vir die sport grootsheid kan bereik. Haar invloed moedig my aan om my vaardighede te ontwikkel, gefokus te bly en my span met trots te verteenwoordig.
Roux Delport - kaptein van die eerste seunshokkiespan
- Wat is julle span se sterkpunte hierdie jaar?
Een van ons grootste sterkpunte is dat die meerderheid van ons span al vanaf graad 9 eerstespan speel so ons ken mekaar se spel al baie goed.
- Wat beteken dit vir jou om die skool se eerste hokkiespan te lei?
Dit is n groot voorreg om die eerstespan te lei hierdie jaar aangesien ons span baie goed vaar sover en ons die jonger generasies wil inspireer.
- Het jul skool `n groot hokkiekultuur en hoe belangrik is sukses vir julle span om dit te volhou?
Ons skool se hokkiekultuur het baie gegroei die afgelope paar jaar, ons het n astrobaan gekry en nuwe pawiljoene. Die sukses van ons span is belangrik sodat volgende jaar se eerstespan kan voortbou op ons sukses.
- Wat wil julle as `n span in 2025 bereik?
Ons doelwit vir 2025 was om te groei as n span en die belangrikste wedstryde soos ons derby’s en interskole te wen.
- Watter wedstryd en/of toernooi is vir jul die spesiaalste en hoekom?
Interskole is vir ons die wedstryd wat die belangrikste is omdat dit die meerderheid van ons span se laaste wedstryd vir die skool gaan wees.
- Is daar 'n hokkiespeler of sportfiguur na wie jy opkyk, en hoe het hulle loopbaan jou benadering tot die spel beïnvloed?
Mustapha Cassiem, hy is n hokkie legende vir Suid-Afrika en hy help baie met die opleiding en afrigting van jonger kinders om Suid Afrika se hokkie te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’