Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die leerderraad van De Villiers Primêre Skool het verlede week groot waardering aan hul onderwysers betoon deur 'n spesiale Onderwysersdag vir die personeel te reël, 'n gebeurtenis wat volgens almal betrokke vol verrassings, humor en dankbaarheid was.
Volgens Marlene Delport, onderwyser by De Villiers Primêr, wat die leerderraad met die reëlings gehelp het, was die dag besonder betekenisvol.
"Die leerders het ongelooflik baie moeite gedoen en kon vir elk van die 35 onderwysers 'n spesiale geskenkie koop. Ek het hulle daarmee gehelp," vertel sy.
Die doel van die dag was om die onderwysers op 'n prettige manier te bedank vir hul harde werk en toewyding deur die jaar.
"Die gees was aansteeklik," sê Delport. "Die onderwysers het skooluniforms van verskillende skole aangetrek om soos leerders te lyk. Die leerderraad het vir ons 'n rooi tapyt uitgegooi en die onderwysers het geparadeer. Ons het selfs beoordelaars gehad wat die twee onderwysers aangewys het wat die beste soos leerlinge gelyk het."
Die wenners van die dag was Chanté Minnaar en Pieter Stanley. Foto verskaf
Chanté Minnaar en Pieter Stanley is as wenners aangewys en met 'n koopbewys vir 'n ete by Buffelsdrift Game Lodge bederf.
Die skoolhoof, Granville Josephs, is ook spesiaal bedank en bederf.
"Die kinders het regtig baie moeite gedoen om dit spesiaal te maak," voeg Delport trots by.
Die skoolgemeenskap beskryf die dag as 'n hoogtepunt van die kwartaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’