Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige matrikulante van Bridgton Sekondêr se klas van 1985 het die afgelope naweek hul 40ste reünie met groot geesdrif en nostalgie gevier.
Volgens Kenneth Booysen, oudhoof-seun van die skool, was hulle destyds 120 leerders in die matriekklas, waarvan sowat 25 die reünie bygewoon het. Nege van die oudleerders woon tans in Oudtshoorn.
Die reünienaweek het reeds Vrydagaand met 'n informele byeenkoms afgeskop, waar die skool se onderhoof as gasspreker opgetree het. Die amptelike opening het Saterdagoggend met 'n spesiale ontbyt plaasgevind, waar die onderhoof ook die gaste toegespreek het. Tydens hierdie geleentheid het die groep 'n herdenkingsgeskenk en kontantbedrag aan hul alma mater oorhandig as 'n gebaar van dankbaarheid en ondersteuning aan die skool waar alles begin het.
Fotogalery: BSS-klas van 1985 kom byeen
Die feesvieringe is later die aand afgesluit met 'n gesellige spitbraai, waar oudklasmaats herinneringe gedeel en ou bande versterk het.
Daar is Sondag tydens die spesiale erediens kerse opgesteek ter nagedagtenes van ontslape leerlinge en onderwysers. Van links is: Chris Marnewick, Clive Plaatjies, ds. Leon Klate, Ronel Le Kay (huidige adjunkhoof), Marjorie Fortuin (oud-onderwyser van 1985), Kenneth Booysen en Genevieve Anthony. Foto verskaf
Op Sondag is die naweek op 'n betekenisvolle noot afgesluit met 'n gedenkdiens wat deur oudklasmaat, ds. Leon Klate, gelei is. Tydens die diens is kerse aangesteek ter nagedagtenis aan die klasmaats wat oor die jare heen oorlede is. Daar is ook hulde gebring aan twee afgestorwe voormalige skoolhoofde. Oud-onderwyser Margie Fortuin het tydens die diens as gasspreker opgetree en 'n inspirerende boodskap gedeel.
Clive Plaatjies, 'n lid van die reëlingskomitee, het die reünie as 'n "feestelike en geseënde naweek" beskryf.
"Hoewel 1985 nie die maklikste jaar was om in te matrikuleer nie, het ons almal daarin geslaag om iets van ons lewens te maak. Vandag het ons dokters, onderwysers, polisiebeamptes, verpleërs en nog vele ander profes-sionele mense in ons groep. Ek is trots om te sê dat ek deel was van die klas van 1985," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’