OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Wesbank het einde 2025 'n nuwe hoof aan die stuur gekry toe Sureka Wallace in die laaste kwartaal as skoolhoof aangestel is.
Vir die Wesbank-gemeenskap is sy egter allesbehalwe 'n nuwe gesig, Wallace is sedert 1995 'n trotse onderwyser by die skool en het voor haar aanstelling as hoof die rol van onderhoof vervul.
Volgens Wallace was dit nooit deel van haar plan om skoolhoof te word nie. Ná die vorige hoof, Waldo Cloete, verlede jaar 'n ander pos aanvaar het, het die geleentheid egter onverwags oor haar pad gekom. "Die roete wat ons vir onsself beplan en die een wat God vir ons beplan, is nie altyd dieselfde nie. Ek is reg vir hierdie uitdaging," sê sy.
Ten spyte van haar nuwe rol, bly Wallace steeds nou betrokke by die klaskamer en gee tans wiskunde aan die gr. 4-leerders. "Dit is immers waar my hart lê. Dit gaan oor die kinders. Ek is het 'n absolute passie vir onderwys, klasgee en die leerders," vertel sy.
Wallace beskryf die huidige tyd as 'n opwindende nuwe era vir Laerskool Wesbank. Die skool funksioneer volgens 12 kernwaardes, een vir elke maand van die jaar, met "omgee" as die oorkoepelende waarde.
"Omgee vir mekaar, vir leerders, ouers en onderwysers. Ons werk met kinders en elke kind is kosbaar. Dit is die boodskap wat ons by Wesbank wil uitdra, ons gee om vir almal," beklemtoon sy.
Sy het reeds begin om haar visie prakties uit te leef. Vernuwings is aangebring, onder meer deur die mure in die skoolsaal nuut te verf en die waardes duidelik sigbaar aan te bring sodat elke leerder dit kan verstaan en uitleef.
"Ons wil dit vir elke leerder vrolik en opwindend maak. Daar is ook verskeie projekte rondom ons waardes in die pyplyn," sê Wallace.
Met 2026 in sig is Wallace vol verwagting en entoesiasme. Sy sien uit daarna om voort te bou op die sterk fondasie van Laerskool Wesbank en saam met haar personeel, leerders en ouers 'n skoolkultuur van omgee, groei en positiwiteit te vestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’