PRINS ALBERT-NUUS - Ses leerders van Prins Albert Primêr het onlangs aan die Nasionale WOW-spelkompetisie in Stellenbosch deelgeneem, waar hulle teen spellers van sewe ander provinsies meegeding het.
Volgens Nadia Claassen, 'n onderwyser by die skool, is dit die eerste keer dat soveel leerders van Prins Albert Primêr na die nasionale ronde deurgedring het. Die span het vir die afgelope agt maande feitlik daagliks geoefen en selfs gedurende pouses, Saterdae en vakansies bly oefen met die hulp van onderwysers en lede van die gemeenskap.
"Om net aan die nasionale kompetisie deel te neem, beteken jy is reeds een van die top-30-spellers in jou graad in die provinsie," sê die afrigters trots.
Die harde werk het beslis vrugte afgewerp, die span het drie goue medaljes en een bronsmedalje huis toe gebring.
Die goue medaljes is verower deur Rania Fransen (gr. 6), Lemeequa Andries (gr. 4) en Chadia Fransen (gr. 3), terwyl Kurshnee Kammies (gr. 2) met 'n bronsmedalje bekroon is.
Rania Fransen het boonop vir die tweede agtereenvolgende jaar as topspeller in haar graad uitgestyg.
"Ons is ongelooflik trots op hierdie leerders. Hulle is ons eie 'Springbokke' van spelling," sê die skoolhoof Matulda Mooneys.
"Sulke prestasies is slegs moontlik met toegewyde leerders, ywerige onderwysers en ondersteunende ouers."
Die afrigters is Diana Koorts, Leoni Moolman, Valerie Pieterse en Pamela Claassen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’