OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium het op 1 Julie amptelik hul nuwe hoof verwelkom. Carl Snyman (37), voorheen onderhoof van Hoërskool Cradock, neem die leisels by die skool oor.
Alewyn Vorster het vir 18 maande in die posisie waargeneem ná die aftrede van Stephanus Potgieter.
Snyman, wat oorspronklik van Gqeberha (Port Elizabeth) afkomstig is, het gesê hy, sy vrou Willene, 'n finansiële beplanner, en hulle vierjarige seuntjie, Willem, was opgewonde om hulle in die Klein-Karoo te vestig.
"Ons sien baie uit na die nuwe seisoen, die uitdagings en om deel van die Gimmie-familie te word," sê hy.
Hy het by gerespekteerde skole soos Hoërskool Pearson en Grey High School skool gegee. In 2023 het hy waardevolle ervaring opgedoen as waarnemende skoolhoof, wat hom goed voorberei het vir sy nuwe rol by Langenhoven Gimnasium.
Onderwys is vir Snyman meer as net 'n beroep, dit is sy roeping.
"Ek leef vir kinders en mense," sê hy.
"Ek hou daarvan om na die struktuur van 'n skool te kyk en sterkpunte verder te versterk, terwyl ek maniere soek om swakpunte doelgerig aan te spreek. Ek wil graag by skoolbestuur betrokke wees en nie nét onderwys nie."
Snyman het sy B.Ed-graad met spesialisering in wiskunde en fisiese wetenskappe aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU) voltooi. Hy beskik ook oor 'n meestersgraad in besigheids-administrasie. Hierdie kwalifikasie saam met sy doelgerigtheid rus hom goed toe vir die bestuursverantwoordelikhede van die skool.
Volgens Snyman is dit vir hom belangrik om eers 'n mens, dan 'n onderwyser, en dán 'n skoolhoof te wees.
"Ek is nie bang vir hard werk nie. Ek wil werklik betrokke wees, by die personeel én die leerders. My doel is om saam met die Gimmie-gemeenskap te werk en te groei, en die skool na nog hoër hoogtes te neem."
Hoewel hy nog nie spesifieke besonderhede wil verklap nie, sê Snyman dat hy reeds aan verskeie opwindende projekte werk wat Gimmies se toekoms positief sal beïnvloed.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’