OUDTSHOORN NUUS - Van Reede Skool se kodering-en-robotikaspan het tweede plek gekry in die Robotuitvoeringkategorie by die eerste LEGO-ligastreekkompetisie in George en kwalifiseer nou vir die nasionale kompetisie in Kaapstad in Desember wanneer die eerste Suid-Afrika LEGO-ligakompetisie gaan plaasvind.
Die unieke kompetisie is aangebied deur Suff Akademie in samewerking met Unisa Wes-Kaap.
Vanjaar se Unearthed-tema het leerders uitgedaag om te ondersoek hoe ons in die verlede kan delf om ’n beter toekoms te bou. Die tema het kreatiwiteit, spanwerk en praktiese probleemoplossingsvaardighede deur middel van kodering en robotika geïnspireer.
Die streekkompetisie het 11 Explore-spanne (gr. 1 tot 3) en 12 Challenge-spanne (gr. 4 tot 9) van skole regoor die Tuinroete byeengebring, insluitend dié uit George, Riversdal en Oudtshoorn.
Die Explore-afdeling het jonger leerders bekendgestel aan die wêreld van wetenskap, ingenieurswese en innovasie, waar spanne kreatiewe modelle ontwerp en aanbied - gebou uit LEGO en aangedryf deur verbeelding. Elke Explore-span het ’n spesiale LEGO-medalje en toekenning ontvang ter viering van hul nuuskierigheid en harde werk.
Die Challenge-afdeling het ouer spanne se vaardighede in robotontwerp, programmering, navorsing en spanwerk getoets, terwyl hulle meegeding het om topprestasies in verskeie kategorieë.
Ray Carstens, die kodering-en-robotika-programbestuurder vir Suff Akademie noem dat hierdie ’n geweldige mylpaal is.
“Om te groei van drie tot 20 spanne in een jaar is ’n groot prestasie. Om met leerders regoor die Wes-Kaap en Tuinroete te werk is ’n voorreg en plesier. Om die kinders se opgewondenheid, kreatiwiteit en probleemoplossingsvaardighede te sien gestalte kry deur die program hou ons gemotiveerd.”
Ray Carstens, die kodering-en-robotika-programbestuurder vir Suff Akademie met die trofee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’