OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium het Maandagoggend, 24 Februarie, 'n groot hupstoot ontvang vanaf Klein Karoo Saadproduksie (KKS) met 'n R200 000 borgskap vir die skool se opkomende sporttoernooi in April.
David Malan van Klein Karoo Saadproduksie het die tjek aan die waarnemende skoolhoof van Gimmies, Alewyn Vorster, oorhandig.
Vorster het KKS bedank vir die ruim skenking. "Die fondse gaan aangewend word vir ons sporttoernooi wat van 18 tot 21 April by Langenhoven Gimnasium gaan plaasvind met die o. 19-rugby en -netbal, asook die seuns- en dogtershokkie. Hierdie geleentheid sou nie moontlik wees sonder die ondersteuning van borge nie.
'n Spesiale dank aan Klein Karoo Saad, Klein Karoo Saadproduksie en Agrofors vir hul waardevolle bydrae tot die sukses van hierdie toernooi."
Skole van regoor Suid-Afrika neem deel aan die toernooi, wat 'n verskeidenheid sportsoorte insluit, soos rugby, netbal en hokkie. Die toernooi bied jong sport-manne en -vroue die geleentheid om hul vaardighede te slyp, spanwerk te bevorder en ware sportmangees te toon.
Volgens Vorster, beloof die KKS-Gimmies-sporttoernooi nie net topgehalte sportaksie nie, maar is ook 'n wonderlike geleentheid vir gesinne en sportliefhebbers om saam te kom en die gemeenskapsgees te geniet. "Ons sien uit daarna om skole van regoor die land te verwelkom en 'n platform te bied vir jong talent om uit te blink."
Ten slotte noem Vorster dat daar reeds 27 spanne is wat aan die verskeie sportkodes gaan deelneem en Gimmies sien uit om sowat 480 leerders gedurende die toernooi te verwelkom en te huisves. "Skole wat nog wil deel word van die fantastiese geleentheid, is welkom om Langenhoven Gimnasium se sportorganiseerder te kontak vir verdere inligting.
Besoekers kan uitsien na 'n naweek vol opwindende wedstryde, kosstalletjies en vermaak vir die hele gesin. Die toernooi is oop vir die publiek en almal word uitgenooi om hul gunstelingspanne te ondersteun. Gimmies sien saam met Klein Karoo Saadproduksie uit na 'n wonderlike sportdag."
- Vir verdere navrae of om meer oor die toernooi te wete te kom, kontak asseblief Dylan Bornmann by sport@lgim.co.za of 044 272 2151/2.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’