OUDTSHOORN NUUS - Op die vooraand van môre se tussenverkiesing het ten minste drie partye die geleentheid gegryp om inwoners in die drie wyke te oortuig om vir hulle te stem.
Die DA se nasionale leier, John Steenhuisen, het Maandag al drie wyke besoek, met gemeenskapslede gesels en ook individue besoek.
Na afloop van die dag se besoeke het hy afgevaardigdes van die dorp se besigheidskamers, landbousektor en toerisme toegespreek. Kwessies soos ontwikkeling in die dorp, deursigtigheid, wantroue in politici en landboukwessies is aan hom voorgehou.
Daar was ook vrae oor 'n mediaverklaring oor ekonomiese ontwikkeling wat verlede week deur die burgemeester, Chris Macpherson, uitgestuur is. Laubscher Coetzee het namens landbouers sy frustrasie gedeel dat die waarde van landbou tot 'n groot mate misken word en die bekende sakeman De Villiers Neethling het benadruk dat daar na die salarispakkette van munisipale ampsdraers gekyk moet word en ook gevra waarom Oudtshoorn, wat die swakste ekonomie in die streek het, munisipale belastings moet betaal wat meer as dubbel dié van omliggende dorpe is.
EFF-ondersteuners tydens die besoek van hulle parlementslid, Nazier Paulse.
Die ANC se nasionale adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Mcebisi Skwatsha, het ook die afgelope naweek deur die drie wyke beweeg en ondersteuners toegespreek en individue by hulle huise besoek.
Dieselfde patroon is ook deur die EFF se parlementslid Nazier Paulsen gevolg. Die tussenverkiesing is uiters belangrik vir die DA as hulle beheer van die dorp wil behou.
Tydens die vergadering van Steenhuisen het Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer gesê dit maak vir hom nie saak wie die dorp regeer nie, die belangrikste aspek is dat dit deursigtig en tot voordeel van die gemeenskap en die ekonomiese vooruitgang gedoen moet word.
Mcebisi Skwatsha,(lnks) ANC-adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in een van die wyke tydens sy besoek die afgelope naweek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'