OUDTSHOORN NUUS - Henricus Gysman, beter bekend as Rickey G, is Sondag amptelik as die Demokratiese Alliansie (DA) se burgemeesterskandidaat vir Oudtshoorn aangekondig.
Die aankondiging is deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, saam met die Wes-Kaapse DA-leier, Tertuis Simmers, en die provinsiale voorsitter van die DA, Jaco Londt, gemaak.
Gysman, ’n gebore Oudtshoorniet en omroeper by EdenFM, is tydens die geleentheid geloof vir sy betrokkenheid by die gemeenskap. Simmers het gesê Gysman was vir jare ’n bekende stem op die radio en iemand wat werklik na inwoners geluister het.
“Vir 15 jaar was hy in baie huise die stem op die radio. Hy het nie net gepraat nie, hy het geluister. Hy het nie net uitgesaai nie, hy het opgestaan. Hy is ’n baken van hoop vir ’n gemeenskap wat veg vir geregtigheid en geleenthede,” het Simmers gesê.
Volgens Winde is daar tans meer as 500 politieke partye in Suid-Afrika, en het hy inwoners aangemoedig om vir ’n party te stem wat hulle glo werklik ’n verskil in die dorp kan maak.
Gysman het gesê dit is vir hom ’n groot voorreg om as die DA se verkose kandidaat aangewys te wees.
“Ek het vir lank verslag gedoen oor die agteruitgang van die dorp, maar ek het besluit om self ’n verskil te maak. Ek wil ’n positiewe impak in alle gemeenskappe hê sodat almal voordeel trek uit die besluite wat geneem word,” het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’