OUDTSHOORN NUUS - ’n Groep ontstoke inwoners het vanoggend, 14 Augustus, voor die Oudtshoorn-munisipaliteit saamgedrom om antwoorde te eis oor die nuwe aftrekkings wat van voorafbetaalde elektrisiteitskope, oftewel koopkrag, gemaak word.
Die inwoners se protes volg nadat verskeie verbruikers sedert gister, 13 Augustus, behoorlik gal gebraak het oor die groot bedrae wat van hul koopkragaankope afgetrek word om uitstaande munisipale skuld te vereffen.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het op 6 Augustus op sy Facebook-blad ’n kennisgewing geplaas waarin voorafbetaalde elektrisiteitsverbruikers in kennis gestel is dat bykomende aftrekkings op munisipale rekeninge met uitstaande saldo’s geïmplementeer sou word.
Dié besluit is glo op 29 Mei tydens ’n raadsvergadering deur die regerende koalisie goedgekeur.
Volgens die kennisgewing wat op 6 Augustus geplaas is, word die aftrekkings ingevolge die goedgekeurde kredietbeheerbeleid toegepas. Dit beteken dat ’n gedeelte van ’n voorafbetaalde elektrisiteitskoop outomaties aangewend kan word om agterstallige munisipale skuld te vereffen.
Die bedrag wat afgetrek word, hang af van hoe lank die rekening agterstallig is:
- 30 tot 59 dae agterstallig: 60% van die koopkragbedrag word afgetrek
- 60 tot 89 dae agterstallig: 80% word afgetrek
- 90 dae of langer agterstallig: 90% word afgetrek
Die munisipaliteit het inwoners daarop gewys dat die bedrag wat ná die aftrekking oorbly, steeds vir elektrisiteitsverbruik beskikbaar sal wees.
Inwoners kry drie maande
Speaker Suzane Jansen het vanoggend met die inwoners wat voor die munisipaliteit saamgedrom het, gepraat.
Volgens Jansen sal alle kragmeters vandag ontblok word. Sy het ook gesê inwoners met uitstaande skuld sal drie maande kry om met die munisipaliteit reëlings oor die vereffening van hul skuld te tref.
Die aankondiging volg nadat die munisipaliteit gistermiddag ook ’n verklaring uitgereik het waarin ’n tegniese probleem met die stelsel erken is.
Volgens die munisipaliteit het die raad besluit dat voorafbetaalde elektrisiteitsverbruikers wat agterstallig is, nie gepenaliseer of hul elektrisiteitstoevoer geblokkeer moet word nie. In plaas daarvan sou dié huishoudings op ’n sogenaamde "hulpreëling" geplaas word om hulle by te staan terwyl hulle steeds geld skuld.
“Munisipale amptenare het egter tydens die toetsing van die stelsel ’n tegniese fout opgespoor wat onbedoeld daartoe gelei het dat die elektrisiteitstoevoer van sommige agterstallige huishoudings en verbruikers geblokkeer is.”
'n Groep ontstoke inwoners voor die Oudtshoorn-munisipaliteit vanoggend, 14 Augustus. Foto: Liezl van Niekerk
Spesiale raadsvergadering
Intussen het verdere vrae ontstaan nadat ’n dringende spesiale raadsvergadering gisteraand, kort voor die aanvangstyd 23:00, belê is.
Die kennisgewing oor die vergadering het omstreeks 22:30 gisteraand op die munisipaliteit se Facebook-blad verskyn.
Sover vasgestel kon word was slegs die 13 raadslede van die regerende koalisie by die vergadering.
Nadat Jansen vanoggend met die inwoners gesels het, is ’n verklaring van haar af op die munisipaliteit se Facebook-blad geplaas waarin die besluit van die dringende spesiale raadsvergadering toegelig word.
Luidens die verklaring het die Oudtshoorn-munisipale raad besluit om die betwiste komponent van die hulp-elektrisiteitsheffing met onmiddellike effek op te skort, hangende dringende regs-, finansiële en administratiewe verifikasie.
Volgens die verklaring het die saak ontstaan uit kommer dat die heffing wat tans geïmplementeer en gefaktureer word, moontlik nie ooreenstem met die hulp-elektrisiteitsheffing wat deur die raad goedgekeur is tydens die 2026/27-begrotings- en tariefgoedkeuringsproses nie.
Die raad het glo besluit dat ’n heffing nie op inwoners toegepas kan word terwyl daar onsekerheid bestaan oor die vraag of die heffing wat geïmplementeer word, ooreenstem met dit wat deur die raad goedgekeur is nie.
Die munisipaliteit beklemtoon egter dat die besluit nie daarop gemik is om wettige munisipale inkomste te vermy of om enige tarief wat wettiglik deur die raad goedgekeur is, te ondermyn nie. Die doel is eerder om te verseker dat raadsbesluite korrek, wettig en deursigtig deur die administrasie geïmplementeer word.
Die tydelike opskorting moet volgens die verklaring ook nie geïnterpreteer word as ’n wysiging, herroeping of permanente opskorting van enige tarief wat wettiglik deur die raad goedgekeur is nie.
Die raad het die munisipale bestuurder opdrag gegee om ’n dringende regsmening te bekom oor die wettigheid en bevoegdheid vir die hulp-elektrisiteitsheffing wat tans geïmplementeer word. Hy moet ook die raad adviseer oor die toepaslike statutêre proses wat gevolg moet word.
Die hoof finansiële beampte moet intussen die volledige dokumentêre en finansiële implementeringsroete van die heffing aan die munisipale bestuurder verskaf. Die finansiële implikasies van die tydelike opskorting, insluitend die moontlike uitwerking daarvan op die goedgekeurde 2026/27-begroting en inkomsteprojeksies, moet ook beoordeel word.
Die munisipale bestuurder sal daarna aan die raad moet terugrapporteer oor die bevindinge van die ondersoek en regsmening, asook aanbevelings oor die toepaslike langtermynplan.
Die verklaring beklemtoon dat inwoners nie die gevolge van administratiewe onsekerheid of moontlike teenstrydighede in die implementering van raadsgoedgekeurde tariewe behoort te dra nie.
Terselfdertyd erken die raad die belangrikheid daarvan om die finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit te beskerm. Volgens die verklaring moet die saak daarom deur behoorlike regsadvies, finansiële assessering, dokumentêre verifikasie en ’n deursigtige implementeringsproses opgelos word.
Die verklaring sluit af met die standpunt dat raadsbesluite soos goedgekeur geïmplementeer moet word en dat enige onsekerheid of teenstrydighede ondersoek en reggestel moet word.
Die hulp- en blokkering van elektrisiteit sal volgens die verklaring vir die volgende drie maande opgeskort word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’