OUDTSHOORN NUUS - Die munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Mkhululi Yekani, het Maandag die versekering gegee dat munisipale dienslewering en operasionele doeltreffendheid steeds gesond is en dat personeellede tot goeie diens verbind bly.
Die verklaring volg ná onlangse politieke verwikkelinge in die munisipaliteit. Johan Allers is voorverlede week tydens ’n spesiale raadsvergadering uit sy amp verwyder, waarna die onderburgemeester, Zoe Tyatya van die ANC, as waarnemende burgemeester aangewys is.
’n Raadsvergadering is aanvanklik vir 26 Februarie geskeduleer, waartydens die munisipaliteit se aanvullende begroting vir goedkeuring ter tafel gelê sou word. Volgens regulasies moet alle munisipaliteite hul aansuiweringsbegrotings voor 28 Februarie goedkeur. Die vergadering het egter nie plaasgevind nie, wat kommer onder inwoners laat ontstaan het.
Volgens Yekani is die vergadering uitgestel omdat die verwydering van die burgemeester daartoe gelei het dat die waarnemende burgemeester en raadslede nie genoeg tyd gehad het om die aanvullende begroting tydens werksessies te bespreek en insette te lewer nie.
Hy het gesê die speaker, Suzane Jansen, het bevestig dat Nasionale Tesourie die uitstel goedgekeur het en dat die besluit in lyn is met toepaslike wetgewing en regulasies.
Die uitgestelde raadsvergadering vind môre, 5 Maart, plaas sodat die aanvullende begroting deur die raad goedgekeur kan word. Slegs die goedkeuring van die begroting is op vandag se agenda. Daar word egter verwag dat ’n spesiale raadsvergadering binnekort gereël sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’