LADISMITH NUUS - Die verkose burgemeester van Kannaland, Jeffrey Donson, gaan hom nie uit die burgemeesterstoel laat boelie nie. Dit was die onomwonde boodskap van Icosa se provinsiale voorsitter, David Kamfer.
Kamfer het Dinsdag 'n mediaverklaring uitgereik nadat daar die afgelope week talle mediaberigte en plasings op sosiale media was oor die verkiesing van Donson as burgemeester.
Soos wat die geval was met die vorige keer dat Donson tot burgemeester verkies is, het berigte weer opgevlam oor Donson se skuldigbevinding aan statutêre verkragting en sy vonnis in 2008.
Die vonnis het gevolg op die statutêre verkragting en onsedelike aanranding van 'n 15-jarige meisie in 2004. Donson is aanvanklik tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, maar dit is op appèl verander na 'n opgeskorte vonnis, R20 000 boete en die voltooiing van 'n rehabilitasieprogram vir seksoortreders.
Die organisasie, Action Society, was een van die groepe wat hulle teen Donson se verkiesing as burgemeester uitgespreek het.
Die ANC het voor die naweek aangedui dat hulle 'n koalisie met Icosa gaan heroorweeg in die lig van die mediaherrie wat die hele kwessie ontlok het, maar Oudtshoorn Courant kon nie daarin slaag om reaksie van een van die twee provinsiale ANC-woordvoerders wat genader is, te kry nie.
Donson het Dinsdag gesê dat hy nog geen druk van die ANC ontvang het om uit sy pos te bedank nie of dat daar enigsins met hom in gesprek getree is nie. 'n ANC-lid Nicky Valentyn, is tans Kannaland se speaker.
In Kamfer se mediavrystelling sê hy die saak teen Donson word opportunisties deur partye en individue gebruik en dat die saak voortspruit uit 'n verhouding wat Donson met die meisie gehad het terwyl hy onder die indruk was dat sy veel ouer was.
Die gedeelte lui as volg: "He was convicted of statutory rape and indecent assault in 2008 of a minor who lived as a life partner of a 50-year-old man for some time, and as such, had no knowledge of her age at the time and assumed that she was of legal age."
Kamfer wys ook in sy verklaring daarop dat Donson nou uitgesonder word terwyl daar ook lede van die DA en ander partye is wat al voorheen aan misdrywe skuldig bevind is en op rade dien. Voorts sê hy dit is vreemd dat ander partye geen probleem met Donson se agtergrond gehad het, toe hulle in Kannaland en in Oudtshoorn met Icosa saamgewerk het nie.
"It needs to be noted that ICOSA has worked with various parties that includes the ANC as well as the DA since 2006. The DA has recently worked with ICOSA in Oudtshoorn from 2020 until 2021. Principles of political parties should be firm, and not change for political motives, or when it suits them."
Kamfer het ook gesê dat Icosa die mandaat van sy kiesers uitvoer.
"We wish to emphasise that we believe in the values conferred in the Constitution which envelopes the right of the community to elect the public officials they trust."
Hy het daarop gewys dat al drie Icosa-raadslede hulle wyke in die afgelope verkiesing gewen het en dus onder geen omstandighede sal bedank nie.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'