OUDTSHOORN NUUS - Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, was Donderdag 3 April in gesprek met Mia Spies by die Netwerk24-feeskafee rakende die stand van sake in die gevangenisdiens.
Die saal was volgepak met KKNK-feesgangers wat wou hoor wat Groenewald te sê het.
Kos in die tronk
Van die kwessies wat geopper is, is hoe die nuwe spyskaarte vir tronke uitgewerk is. "Dit is 'n 12-dae siklus en daar is gekyk na 'n dieetplan, met streng wetlike vereistes wat 'n sekere hoeveelheid koolhidrate, groente, vrugte ensomeer insluit."
Groenewald het die versekering gegee dat die nuwe plan aan alle vereistes voldoen.
"Waar gevangenes byvoorbeeld vier uit die 12 dae beesvleis, nog vier dae varkvleis en die ander vier dae hoender of selfs vis gekry het, het dit nou verander. 'n Gevangene kry nou net een uit die 12 dae beesvleis, een uit die 12 dae varkvleis en op die ander tien dae soja, wat baie protein bevat."
Volgens Groenewald het dit 'n besparing van R407 miljoen per jaar. Hy het gesê die tronk is nie 'n hotel nie en mense moet bang wees vir die tronk.
Gemeenskapsdiens is volgende op Groenewald se 'te doen'-lysie.
"Ek is in 'n proses, daar is dorpe met slaggate, ek wil sien dat die gevangenes in sekere kategorieë ook gaan help om daardie slaggate te gaan toemaak."
Tronke is oorvol
Rakende klagtes dat die tronke in die land oorvol is het hy genoem dat daar 103 000 gevangenes is wat gevonnis is en 108 000 beddens. "So daar is genoeg beddens vir diegene wat gevonnis is, maar daar is ook meer as 61 000 verhoorafwagtendes. Dit is waar die probleem inkom.
Daar is een gevangene wat reeds 12 jaar verhoorafwagtend is."
Dit kos die belastingbetaler R463 per gevangene, per dag. "Ons sit met so 2 127 van hierdie verhoorafwagtendes wat nie die R1 000 of minder bymekaar kon maak om borgtog te betaal nie."
Volgens Groenewald is daar nou 'n projek aan die gang om saam met die departement van justisie te kyk hoe die probleem hanteer kan word. "Verhoorafwagtendes wat al vyf tot tien jaar wag kan vinnig weggewerk word, dan is amper 70% van die probleem opgelos."
Buitelanders is ook 'n kopseer. "Daar is so 25 000 buitelanders in Suid-Afrikaanse tronke waarvan sowat die helfte verhoorafwagtend is."
Volgens hom moet gevonniste buitelanders wat parool kry summier gedeporteer word. Ons moet daardie mense uit ons stelsel kry, hoekom moet ons as belastingbetalers hulle versorg?"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’