OUDTSHOORN NUUS - Die politieke landskap van die Oudtshoorn-munisipaliteit het Woensdagoggend, 18 Februarie, drasties verander toe 'n mosie van wantroue teen burgemeester Johan Allers met 11 stemme teenoor ses aanvaar is.
Die DA het buite stemming gebly.
Die mosie, ingedien deur Leon Campher van Advieskantoor, het gefokus op beweerde bestuursversuim en 'n gebrek aan deursigtigheid in besluitneming.
Speaker Suzane Jansen het die mosie ter tafel gelê en raadslede gevra of daar enige teenvoorstelle is.
Johan Duvenhage, raadslid van die Vryheidsfront Plus, het 'n formele teenvoorstel ingedien dat die mosie nie moet dien nie.
Jansen het daarna tot stemming oorgegaan. Die mosie van wantroue teen Allers is aanvaar.
Campher het sy motivering vir die mosie aan die raad voorgelees. Volgens die motivering het Allers glo versuim om die voorgeskrewe, goedgekeurde rolle en verantwoordelikhede van politieke ampsdraers na te kom.
Daar is aangevoer dat hy die raad nie ingelig het oor sekere besluite nie, insluitend die vervreemding van parke en oop ruimtes, veranderinge wat aan die nuwe raadsaal aangebring is, asook 'n funksie wat by die Kango-grotte aangebied is. Verder is daar verwys na sogenaamde "ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes".
Speaker Suzane Jansen tydens die raadsvergadering. Foto's: Liezl van Niekerk
Die Grobbelaarsrivier-skoonmaakprojek is ook genoem as 'n projek wat moontlik tot vrugtelose uitgawes kan lei, asook die aanstelling van die mediawoordvoerder in die burgemeester se kantoor sonder die nodige kwalifikasies.
"Dit is duidelik dat die uitvoerende burgemeester beheer oor die munisipaliteit verloor het en ons, die ondergetekende raadslede, stel voor dat die uitvoerende burgemeester, raadslid J Allers, uit sy amp verwyder word weens sy versuim om die raad en die administrasie te lei," het Campher afgesluit.
Leon Campher lees sy motivering aan die raad voor.
Die mosie is gesekondeer deur Instonerci Lewis van OGI, Veronica Micheals van Saamstaan en Flerencia Abrahams van die Patriotiese Alliansie (PA).
Allers het ná die voorlesing van die motivering geleentheid gekry om op die bewerings te reageer. Hy het die bewerings ten sterkste ontken en dit as "'n grap" bestempel. Hy het gesê die rivierprojek was 'n voorstel van die vorige burgemeester en is deur die raad goedgekeur.
Wat die funksie by die Kango-grotte betref, het hy aangedui dat dit onder die verantwoordelikheid van die onderburgemeester, Zoe Tyatya, geval het.
Met Allers se verwydering betree die munisipaliteit nou 'n nuwe fase van politieke onsekerheid. Volgens Jansen sal 'n nuwe burgemeester tydens die volgende raadsvergadering, moontlik vroeg volgende week, verkies word. Intussen dien Tyatya as waarnemende burgemeester.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’