Die voorval het plaasgevind by die plaashuis waarin die bejaarde Kenmuir egpaar bly. Die huis is op die Frischgewaagd grondpad naby Rooikraaldam geleë. Die egpaar het vir ‘n paar dae by hul dogter en skoonseun in Middelburg gekuier en was Vrydag op pad huistoe.
Henning en Marlene Joubert het haar ouers na hul huis vergesel. Terwyl die Kenmuir egpaar in Groblersdal gestop het, het die Joubert egpaar solank vooruit gery.
Mnr. Joubert is oorval, terwyl hy gebuk het om pakkies op die kombuisvloer neer te sit. Hy is verskeie kere met ‘n mes gesteek. Tydens die gestoeiery het hy uit die kombuis tot op die stoep geloop, waar hy inmekaar gesak het.
Sy vrou, wat nog by die voertuig was, kon daarin slaag om skote af te vuur en een van die aanvallers is in die rug gewond. Die res van die aanvallers het gevlug en hul gewonde maat agter gelos. Die voorval het omstreeks 12:00 gebeur.
Die Kenmuir egpaar se bure, wat skaars 400 meter van hulle af bly, was eerste op die toneel.