NASIONALE NUUS - Dis jammer pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede nie meer aandag aan die landbousektor gegee nie.
Dis die mening van Agri SA, wat kommersiële landbou verteenwoordig.
"Ons stem saam met die president dat die landboubedryf groot potensiaal vir groei toon," sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur.
"Hy het verskeie planne uitgelig, maar nie genoeg besonderhede verskaf wat die praktiese uitvoerbaarheid daarvan betref nie."
Droogtehulp, geweldsmisdaad in landelike gebiede en die invloed van beurtkrag op die landbousektor moes meer aandag geniet het. "Die president moet genoegsame ondersteuning aan die landbousektor bied om volhoubaarheid en voedselsekerheid te verseker," sê Van Zyl.
Dis wél bemoedigend dat die president die toekenningsproses van waterlisensies gaan versnel en dat hy hom ook verbind het om werkskepping binne die landbousektor aan te moedig.
"Die opbou en herstel van die ekonomie moet nóú op die voorgrond geplaas word," sê Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur. "Ons moet beleidsekerheid hê om beleggers na ons sektor en Suid-Afrika in geheel te lok. Die president se staatsrede hou potensiaal in. Daadwerklike optrede word nou verlang. Sy verbintenis om die land se verswakkende ekonomiese groei om te keer, is positief en sal ook tot voordeel van landbou in geheel wees."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'