TUINROETE | KAROO NUUS - Op Vrydag, 1 Mei het fase 4 van inperking in Suid-Afrika afgeskop. Dit was ook die dag wat ek my sewejarige dogter op Riversdal moes gaan haal om haar terug huis toe te bring.
Hoewel ek 'n geldige permit in my besit het om vir werk te mag ry tydens inperking, was Vrydag die eerste keer sedertdien dat ek 'n ver pad met my kind by my in die voertuig moes aanpak.
Die doel van die rit was ook nie vir werk nie. Ek het dus eerstens gesorg dat ek die nodige dokumentasie hiervoor in my besit kry.
Die algehele inperking het verskeie nuwe uitdagings vir almal geskep. Ook vir geskeide ouers en hul kinders. Soveel te meer vir ouers wat op verskillende dorpe woon.
Op die vooraand van 27 Maart, die eerste dag wat die land op slot geplaas is, het geskeide ouers talle vrae en bekommernisse gehad oor wat presies vir die volgende tydperk toelaatbaar sou wees aangaande toesigregte en reisreëlings.
Intussen het daar duidelikheid gekom dat kinders uit geskeide huishoudings wel tussen huishoudings kan reis.
Die regulasie bepaal dat die beweging of oorgaan van kinders toelaatbaar is mits reëlings getref is om kinders te roteer.
Dit is dus deur middel van 'n hofbevel, 'n ouerskapplan wat onderteken is deur die kantoor van die gesinsadvokaat, en op voorwaarde dat geen individu in die woning waarna die kind sal oorgaan positief vir Covid-19 getoets het nie.
Dokumentasie
Om kinders van een ouerhuis na 'n ander in fase vier te mag aanry, benodig ouers die kinders se geboortesertifikate, asook die hofbevel of ooreenkoms wat tydens die egskeiding of egskeidingsproses aanhangig gemaak is.
Dit is ook noodsaaklik om jou eie identiteitsdokument byderhand te hou. Motoriste, en dit sluit kinders in, moet ook met gesigmaskers die tog aanpak.
Ek het eerstens seker gemaak dat ek alle nodige dokumentasie in my besit het, waarna ek vir my dogter 'n oulike gesigmasker by 'n plaaslike apteek gekoop het. Ek wou haar nie bang maak deur vir haar 'n kliniese gesigmasker te gee nie. Ek het dus een uitgekies met 'n speelse patroon op en dit as 'n geskenk vir haar gegee. Hoewel ek alle geldige dokumentasie vir my reis vanaf Mosselbaai na Riversdal gehad het, was ek steeds gespanne om op die pad te wees.
Die N2 was egter dié keer besiger as toe ek tydens fase 5 vanaf Riversal na Mosselbaai teruggekeer het. Toe was die N2 'n spookpad met bykans slegs polisievoertuie en verkeerpolisievoertuie op dié roete.
Ek het omstreeks 10:00 gery en was verbaas oor die hoeveelheid voertuie wat op die N2 beweeg het. Verkeerspolisie het duskant PetroSA in hul voertuie gesit.
Die N2 tussen Riversdal en Mosselbaai op die eerste dag van fase vier.
Ons terugtog
Op pad na Riversdal is ek nie op die pad gestop nie en kon ek ongehinderd by my dogter uitkom. Sy was baie ingenome met haar gesigmasker. Ek het verduidelik hoekom dit nodig is om een te dra en het haar verseker dat sy nie bang hoef te voel nie.
Ons het 'n rukkie by die afgespreekte ontmoetingspunt vertoef waarna ons die pad terug Mosselbaai toe aangepak het.
Wéér was die pad redelik besig en afgesien van verkeerspolisie se teenwoordigheid, is ons nie by 'n padblokkade gestop nie.
Daar was wel polisiebeamptes wat voertuie van die pad afgetrek het toe ons verby PetroSA ry, maar ons is toegelaat om aan te ry.
Ouers wat hul kinders tydens fase 4 tussen ouerhuise in verskillende dorpe moet aanry kan dit dus met 'n geruste hart doen, mits jy die nodige dokumentasie in jou besit het.
Familieregspesialiste moedig geskeide ouers aan om veral tydens die Covid-19-pandemie, die beste belang van die kinders te oorweeg wanneer kontaksessies beplan word en nie die regulasies te interpreteer en na willekeur te misbruik nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'