OUDTSHOORN NUUS - Dit is Vrouemaand en vroue moet gevier word. Mia le Roux, wat Saterdagaand as Mej. Suid-Afrika gekroon is, was egter nie die enigste vrou wat haar dorp se naam by die skoonheidskompetisie hoog gehou het nie.
Merlene Williams, gewilde grimeerkunstenaar wie se wortels ook diep in Oudtshoorn is, was verantwoordelik om die deelnemers nog mooier te laat lyk.
Sy woon al vir byna twee dekades in Johannesburg.
Williams, 'n oudleerder van Bridgton Sekondêr, is ook die eienaar van Golden Merlene en was tydens die Mej. SA kompetisie die hoof van die hare- en grimering-departement. Dit was die tweede keer wat sy deel was van die agter-die-skerm-span van Mej. Suid-Afrika.
Vir haar gaan dit egter nie net om seker te maak dat elke skoonheid se lippe en maskara mooi lyk nie - vir haar moet die hele mens mooi lyk en mooi voel.
"Ek kom van Crown Chasers af met die deelnemers. Dit is ses weke in hulle teenwoordig en mens leer ken elke vrou. Jy sien waar daar senuwees of hartseer is. Ons moet nooit vergeet dat ons met mense werk nie. Maak nie saak hoe selfversekerd hulle op daardie loopplank lyk nie, almal is maar senuweeagtig en bang.
"Ek maak dit my werk om seker te maak dat die hele wese na gekyk word voor hulle daar uitstap. Of ek water of koffie moet aandra, moed in praat, skouers vryf of voete was. Ek probeer die menslikheidaspek in ons bedryf inbring. Hulle moet veilig voel in my spasie," vertel sy.
Williams sê dat sy vir jare by skoonheidskompetisies betrokke was en selfs aan 'n paar deelgeneem het.
"Show business was maar nog altyd my business. Ek het in dié rigting ook studeer, maar het na 'n ongeluk in die grimeerkunste betrokke geraak. Ek het my besigheid klein begin, maar myself opgewerk met die waardes wat ek in Oudtshoorn geleer het. Daar leer jy van uithouvermoë as jy uit die dorp uit moet stap terug lokasie toe, en respek, want dit is waar jy leer om elke oom en tannie te groet. Ek het my magic daar gekry. Dit is seker maar iets in ons water. Ek sal nooit vergeet waar ek vandaan kom nie."
Williams het in haar loopbaan in die grimeerbedryf op verskeie stelle regoor die wêreld gewerk waar onder Survivor, Family Feuds en Big Brother. Deesdae werk sy ook op stelle van Netflix-produksies.
"Dit is vir my belangrik om elke persoon met wie ek werk dieselfde te behandel, maak nie saak wie ek grimeer nie, 'n groot ster of 'n matriekmeisie, elke persoon verdien die 5-ster-behandeling. Ek probeer om almal deur God se oë te sien, maar ek wil ook hê wanneer hulle in die spieël kyk, hulle hulself deur God se oë moet sien. Elkeen moet sy of haar waarde kan raaksien."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’