OUDTSHOORN NUUS - Mia le Roux, oud-Oudtshoorniet en Mej. Suid-Afrika, is een van 130 vroue uit 127 lande wat Saterdag gaan meeding om die titel vir Mej. Heelal.
Sy is ook die heel eerste dowe deelnemer wat aan Mej. Heelal gaan deelneem.
Dié groot geleentheid vind in Mexiko plaas waar Sheynnis Palacios van Nicaragua haar opvolger aan die einde van die geleentheid sal kroon. Mia is reeds sedert einde Oktober in Mexiko besig met voorbereidings.
Uitsending
Suid-Afrikaanse kykers kan haar reis volg wanneer die finaal Saterdagaand regstreeks op S3 uitgesaai word.
Die Mej. Heelal-finaal vind plaas op Saterdag 16 November en sal regstreeks op S3 (DStv Kanaal 193) uitgesaai word vanaf 04:00 op Sondag, 17 November met ‘n eerste herhaling later dieselfde dag om 20:00.
Meer oor Mej. Heelal
Mej. Heelal 2024 is die 73ste Mej. Heelal-kompetisie en word by die Arena CDMX in Mexikostad, Mexiko, gehou. Die Mej. Heelal Organisasie het vir die eerste keer toegelaat dat alle vroue ouer as 18 jaar mag deelneem, ongeag hul ouderdom.
Mia is tans besig met repetisies voor die finaal en sal op 16 November haar nasionale kostuum ten toon stel.
“Dit was ‘n volgepropte skedule, maar ek het dit geniet om ‘n bietjie van Mexiko en sy skoonheid te sien, ‘n deel van die kultuur te ervaar en deelnemers van regoor die wêreld te ontmoet. Ek werk hard, maar neem ook die tyd om elke oomblik te waardeer. Ek wil die Suid-Afrikaners bedank vir hul boodskappe van ondersteuning – dit beteken die wêreld vir my en ek dra almal saam met my wanneer ek op die Mej. Heelal-verhoog stap,” het Mia gesê.
Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika Organisasie, voeg by: “Ons is so trots op hoe goed Mia in Mexiko vaar. Sy het haar spesiale boodskap van inklusiwiteit met trots na Mej. Heelal geneem, waar sy beloof het om elke Suid-Afrikaner te verteenwoordig. Sy is ‘n inspirasie wat aanhou om elke uitgeslote individu te verteenwoordig met die doel om hoop en geleenthede vir hulle te bring. Ons ondersteun haar om die kroon huis toe te bring.”
Vorige Suid-Afrikaners wat gekroon is
Suid-Afrika is een van die voorste lande in skoonheidskompetisies en het ‘n indrukwekkende rekord by die Mej. Heelal-kompetisie.
Vorige wenners
• 2017 - Demi-Leigh Nel-Peters (Tebow) is gekroon as Mej. Heelal
• 2018 - Tamaryn Green (Green-Nxumalo), eerste naaswenner
• 2019 – Zozibini Tunzi, is gekroon as Mej. Heelal
• 2021 - Lalela Mswane, tweede naaswenner
Stem vir Mia
Suid-Afrikaners word aangemoedig om vir Mia te stem, aangesien aanlyn stemme nou oop is via die amptelike Mej. Heelal-toepassing; die deelnemer met die meeste stemme kry ‘n outomatiese plek in die semi-finaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’