OUDTSHOORN NUUS - Karla Britz, oud-Oudtshoorniet en dogter van Katie en Cobie Britz, is tans in Istanbul gestrand terwyl sy vakansie in Turkye gehou het. Sy is reeds vir ses jaar onderwyser in Koeweit.
Volgens Britz het haar skool op 19 Februarie gesluit, waarna sy vir ’n kort vakansie na Turkye vertrek het. By haar aankoms op die lughawe in Istanbul is sy onverwags meegedeel dat die lugruim weens die oorlog gesluit is.
“Ek het Saterdagaand op die lughawe oornag en Sondagoggend by ’n hotel ingeboek,” sê Britz. “Ek gaan nie jok nie, dit was vreesaanjaend. Jy voel ’n mengsel van onsekerheid en alleenheid, en dit druk baie op jou emosies. Alhoewel ek tans veilig is, is die onsekerheid oor hoe lank ek hier gaan wees nie lekker nie.”
Sy vertel verder dat haar vriende wat nog in Koeweit is, ook spanning ervaar en binnenshuis moet bly terwyl die situasie in die streek steeds onstabiel is.
“Ons probeer kalm bly, maar jy kan nie help om bekommerd te wees nie, veral omdat jy ver van jou familie en jou huis is,” voeg sy by.
Volgens haar bly sy op hoogte van die situasie deur vriende en kollegas wat met haar kontak gemaak het en ook ’n groep waarop sy en ander Suid-Afrikaners is wat oorsee werk.
Die lugredery waarmee sy gevlieg het, het geen inligting met haar gekommunikeer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’