Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Rafael Nadal, wat as 'n internasionale kleibaantennisspeler by uitstek beskou word, kan nou maar na George kom.
George spog nou met sy eie volwaardige kleibane. Wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat dit die eerste kleibane in Suid-Afrika is.
George-burgemeester Leon van Wyk, vergesel van onder meer Dirk Wessels, 'n burgemeesterskomiteelid, Marlene Barnard, hoofsweep van die stadsraad en dr. Michelle Gratz, munisipale bestuurder, het Maandag die bane in Rooirivierrif besoek.
Hulle is deur die ontwikkelaar en dryfkrag agter die projek Jonathan Hills ontvang en rondgewys. Werkers was besig met finale afrondings aan van die bane en ook die padel-tennisbane, 'n sosiale vorm van tennis. (Padel is 'n mengsel van tennis en muurbal)
Die totale koste van die projek, wat 'n klubhuis insluit, beloop sowat R22 miljoen. Aanvanklik word voorsiening gemaak vir ses bane, maar voorbereidings word gedoen dat dit later met nog drie bane uitgebrei kan word.
Tydens Maandag se geleentheid het Van Wyk eerstehands beleef hoe dit voel om op 'n kleibaan te speel. Hy en Hills het 'n paar balle vir mekaar op een van die bane geslaan. Van Wyk het gewys dat hy beslis oor tennisvaardighede beskik
Van Wyk het gesê dis 'n ongelooflike projek. Nie net vir George, maar ook vir die hele Suid-Afrika. Daar gaan nog internasionale toernooie op die bane gesien word.
Hills het gesê dis een van sy groot drome om weer 'n ATP toernooi in Suid-Afrika te kry. Hy was op sy dag self 'n dubbels professionele speler.
"Daar is groot drome en 'n klomp verskillende goed wat hier gaan gebeur. Dis 'n groot geleentheid vir Suid-Afrikaanse kinders om 'n beter platform te kry om oorsee te gaan speel en te ontwikkel uit hul tienerjare tot professionele spelers.
VIDEO: George spog nou met kleibane
Marlene Barnard (hoofsweep van die stadsraad), dr. Michele Gratz (munisipale bestuurder), Leon van Wyk (George-burgemeester) en Jonathan Hills op een van die nuwe bane. Foto: Eugene Gunning
Lees meer in susterskoerant, George Herald
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'