Update Video
OUDTSHOORN NUUS VIDEO - Die koppe het verlede Donderdagmiddag behoorlik gedraai toe 12 bloedrooi Ferraris by TFASA (Test Flying Academy of South Africa) hul opwagting gemaak het.
Hierdie Italiaanse spogmotors is deel van die Tuinroete Ferrari-motorklub en het deur Oudtshoorn gery op pad Port Elizabeth toe vir liefdadigheidswerk. .
Daar sal hulle ondermeer die publiek vir pretritte neem en ook Ferrari-memorabilia opveil met die winste wat aan gestremde- en mishandelde kinders sal gaan. Die eienaars van die Ferraris sal ook gevorderde bestuursopleiding by die Aldo Scribante-renbaan ontvang.
Een van die redes dat dié klub besluit het om by TFASA op Oudtshoorn aan te doen is omdat dit Cilliers Viljoen (lid van die klub) se voorneme is om een van TFASA se nuwe BlackShape-vliegtuie te koop. Die luukse BlackShape-vliegtuig se oorsprong is soos die Ferrari ook van Italië.
TFASA het besluit om een van die BlackShape-vliegtuie te stuur om die rooi vuurperde halfpad tussen George en Oudtshoorn te haal en die dorp binne te lei. Die Oudtshoorn Courant-joernalis, Wyndham Ewerts, het ook saam met een van TFASA se vliegtuie gevlieg om foto's van die Ferraris tesame met hul splinternuwe BlackShape-vliegtuie uit die lug te neem.
Oor sy vliegtuigrit het Ewerts gesê dat dit nogal uitdagend was om foto's uit die lug op daardie hoogte en spoed te neem. "My bloed het ook behoorlik geruis omdat albei deure van die kajuit vir hierdie doeleindes afgehaal was.
Elke keer as ek moes uitleun om die foto's te neem het ek 'n vinnige skietgebedjie opgesê wat my kalmeer het. Dit was nietemin 'n lekker adrenalien-ervaring wat ek verskriklik baie geniet het."
Kyk 'n video hieronder
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'