Vir die J3-luikrug in die C-segment het die vervaardigers 'n bietjie Italiaanse hulp ingeroep met die ontwerp en die voertuig het 'n afgeronde voorkoms wat dit 'n stap beter as sy voorgangers uit die Chery-stal maak.
Aangesien die mark vir hierdie motor baie sterk op waarde vir die prys ingestel is, was dit nie 'n verrassing om te sien hoeveel ekstras wel by die motor ingesluit word nie. Dit is beslis 'n oorweging om na te kyk as 'n mens na 'n billike motor soek, veral as 'n tweede gesinsmotor. Dit lyk taamlik elegant en soos reeds genoem, met die vordering wat elke model maak, het ons vooraf verwag om verras te word met wat die Chery J3 bied.
BUITE
Die J3 het soepel lyne en 'n stylvolle sykant met mooi gevormde vensters aan alle kante. Dit wil effens sportief wees met ronde ontwerplyne en 'n duidelik merkbare skouerlyn, wat egter nie oorbeklemtoon is nie. Agter is daar ook 'n mooi kleurgepaste buffer en netjies gevormde agterligte in helder plastiek-omhulsels.
Die motor lyk gesofistikeerd van voor wat sekerlik aan die Italiaanse inset te danke is. Dit het 'n mooi gevormde neus en ook groot, duidelike hoofligte bo, 'n netjiese sierrooster met 'n tweede luginlaat onder asook 'n tweede stel ligte.
Die wielboë is nie oordramaties nie en vorm 'n netjiese raam vir die wiele. Agterlangs is daar twee silwerkleurige uitlate en 'n mooi ontwerpte hoog gemonteerde remlig, asook misligte, 'n ruitveër en ontwasemer.
BINNE
Die J3 het leersitplekke en die voorste sitplekke kan agtvoudig verstel word om 'n gemaklike bestuursposisie te kry.
Die agterste sitplekke verdeel 60/40 wat dit moontlik maak om pakwerk noukeurig te beplan en meer pakruimte toelaat wanneer dit nodig is.
Die afwerking is netjies en hoewel die J3 nie 'n luukse sedan is nie, is dit weer 'n kwessie van alles min of meer waar 'n mens dit sou verwag wat die voertuig maklik maak om van die begin af te bestuur.
EKSTRAS
Die motor het outomatiese hoofligte en reënveërs, lugversorging en klimaatbeheer, parkeerafstandbeheer en elektriese vensters voor en agter. Daar is 'n basiese radio en CD Speler met 'n USB-poort, asook ses luidsprekers wat 'n voldoende klankstelsel bied.
Die bagasieruim bied 350 liter wat genoeg is as die grootte van die motor en sy waarskynlike gebruik as 'n kleiner gesinsmotor in ag geneem word.
Die algemene indruk is dat die Chery J3 groot genoeg is vir vier mense wat 'n kort rit saam aanpak, of dat 'n gesin maklik saam hierin 'n hele ent kan ry.
VEILIGHEID EN SEKURITEIT
Daar is ISOfix-hegstukke vir kinderstoeltjies en die motor het nuwe generasie ABS-remme (Anti-lock breaking system) met EBD (Electronic braceforce distribution). Daar is ses lugsakke voor en agter en die motor het frommelsones, 'n alarm en 'n immobiliseerder. Daar is ook driepunt-passasiergordels voor en agter. Veiligheidsaspekte sluit ook 'n reënsensor-aktiveerder in. Die motor het ook 'n NCAP 5-ster gradering ontvang wat gerusstellend is by 'n intreevlakmotor.
BESTUURSGERIEF
Die J3 bestuur lekker - en ook op die langer pad was dit ge-rieflik. Ons het byvoorbeeld die snelweg Kaapstad toe aangedurf en daarna heelwat in die stad ook gery. Die padhouvermoë was goed en hoewel die stuurwiel effens los gevoel het, was dit nie onakkuraat nie. Die ratwisseling was glad en byna instinktief.
Dit is ewe gemaklik met die eise wat albei omgewings stel. Hoewel dit nie 'n groot motor is nie, was dit gerieflik genoeg vir 'n paar uur se ry en die sitplekke het die regte ondersteuning gebied, hoewel sommige mense dalk sou dink daar is meer steun as wat nodig is. Vir my was dit egter gemaklik en die sitplekke nie te hard nie. Die kajuit is netjies en daar was min pad- en windgeraas of steurende vibrasie.
Die onderstel het die verskillende padoppervlakke goed hanteer en die enigste moontlik kritiek is dat die stuurwiel effens los reageer, maar dit was nie oormatig steurend nie en die omstandighede het geen radikale stuurwerk vereis nie! Die motor het ook kragstuur en die stuurwiel is verstelbaar en met leer oorgetrek.
ENJIN
Die enjin is kragtig genoeg en ekonomies om die hart te verbly. Dit lewer 87 kW teen 6 150 r/min en 147 Nm wringkrag teen 4 300 r/min van die 1,6 liter petrolenjin. Die gepubliseerde petrolverbruik op die gekombineerde siklus is 7,7 liter per 100 km.
BESONDERHEDE
Die motor kom met 'n 3 jaar of 75 000 km diensplan en 'n uitgebreide handelaarsnetwerk met die nodige onderdele vir gemoedsrus. Daar is ook 'n padbystandsdiens en die waarborg is drie jaar of 100 000 km. Die motor is deur Seamans Chery van George vir die toetsrit beskikbaar gestel. Vir meer inligting, skakel 044 873 2039.
Spesifikasies:
- Model: Chery J3 1,6 TXE
- Enjin: 1,6-liter, vier-silinder petrolenjin
- Kraglewering: 87 kW teen 6 150 r/min
- Wringkrag: 147 Nm teen 4 500 r/min
- 0-100 km/h: 12,3 sekondes
- Brandstofverbruik 7,7L/100 km
- Brandstoftenk: 57 liter
- CO2: 183g/km
- Topspoed: 183 km/h
- Prys: R179 900
- Diensplan: 3 jaar of 75 000 km
- Waarborg: 3 jaar of 100 000 km
- Diensinterval: 15 000 km (eerste diens op 5 000 km)