OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskap het met groot hartseer verneem van die afsterwe van adjudant-offisier klas 2, Christo (Zandties) van der Zandt, wat verlede week ná 'n kort siekbed oorlede is. Hy was 55 jaar oud.
Van der Zandt, wat in die oudit- en verifikasie-afdeling van die Oudtshoorn Infanterieskool gewerk het, was nie net bekend as 'n toegewyde weermaglid nie, maar ook as 'n geliefde inwoner van die dorp.
Sy lewensmaat van die afgelope nege jaar, Helen Butler, beskryf hom as "'n liefdevolle mens en almal se vriend". Sy vertel ook dat haar kinders baie lief vir hom was en dat hy soos 'n tweede pa vir hulle was.
Van der Zandt was 'n vurige ondersteuner van die Blou Bulle en het graag staaltjies vertel.
Sy jongste seun, Zander, is in 2014 op 16 in 'n motorfietsongeluk in Baron van Reedestraat oorlede.
Hy word oorleef deur Butler, haar kinders en sy oudste seun, Jean. 'n Amptelike weermagbegrafnis sal gehou word, waarna familie en vriende 'n viering van sy lewe sal hou. Die datums is nog nie bekend nie.
Sy afsterwe laat 'n groot leemte, nie net in sy familie se lewe nie, maar ook in die weermag en die breër gemeenskap wat hom geken en waardeer het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’