OUDTSHOORN NUUS - Met die Raubenheimerdam se vlak wat tans net-net onder 50% is, het die munisipaliteit inwoners daarop gewys dat streng waterbeperkings steeds geld ondanks die reën van die afgelope tyd.
Die volgende verklaring is vanoggend uitgereik:
"Ten spyte daarvan dat sowat 77 mm reën wat oor die naweek in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam geval het, moet inwoners van die Groter Oudtshoorn steeds versigtig werk met die dorp se water. Die warmste somermaande lê nog voor en die droogtekrisis is beslis nie verby nie.
"‘n Beroep word op inwoners gedoen om steeds gehoor te gee aan waterbeperkings met ’n boete van R1 000 wat steeds geld vir mense wat waterbeperkings oortree.
"Tot dat die reënval patroon nie vir ten minste ‘n jaar of twee na normaal terugkeer nie sal die waterbeperkings ongelukkig in plek moet bly.
"Indien inwoners bewus is van iemand wat nie gehoor gee aan die waterbeperkings nie, kan hulle dit by die munisipaliteit rapporteer by die volgende nommers: 044-203 3090/86 tydens normale werks-ure en 044-2037800/01 na-ure.
"Die munisipaliteit fokus ook tans op hoë waterverbruikers en probeer vasstel wat die oorsaak van hul hoë waterverbruik is.
"Die loslating van water uit die Raubenheimerdam vir watergebruikers stroom-af – wat ingevolge ooreenkomste tussen dié watergebruikers en die munisipaliteit tydens die bou van die dam aangegaan is en verpligtend is in Januarie, Februarie en Maart – het ook altyd ’n groot invloed op die daling van die damvlak."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'