OUDTSHOORN NUUS - Geldré Potgieter (32), 'n oud-Gimmie en marathonatleet wat reeds wêreldwyd gehardloop het, is op 'n unieke missie om elke tree betekenisvol te maak deur sewe marathons by die sewe wêrelderfeniswonders te voltooi.
Vir haar gaan hierdie reis nie oor medaljes of prestasies nie, maar oor dankbaarheid vir God se genade en vir die gawe om te kan hardloop, en as 'n daad van geloof wat in beweging uitgeleef word.
In gesprek verduidelik sy dat haar doel is om die sewe marathons te voltooi ter ondersteuning van die Eljada Nasorgsentrum in Oudtshoorn.
"Ek wil deur hierdie uitdaging nie net broodnodige fondse insamel nie, maar ook bewusmaking skep vir mense wat met gestremdhede leef. Waar my voorbereiding vir die marathons my eie keuse is, is hul daaglikse lyding en uitdagings nie self gekies nie. Ek wil lig werp op die onsigbare opofferings, die stryd en die wreedhede wat gestremdes daagliks trotseer, en ander nooi om saam met my 'n verskil te maak."
Eljada Nasorgsentrum is 'n geregistreerde instansie wat voltydse sorg bied aan sowat 100 volwassenes met intellektuele gestremdhede. Van die inwoners woon permanent daar en ander is net gedurende die dag daar.
Benewens haar passie vir hardloop is Geldré voltyds werksaam op die passasierskip, Virgin Voyges.
Sy beoog om ongeveer twee marathons 'n jaar te hardloop.
Die eerste sal in Petra, Jordanië wees waar sy deur die smal Siq, met sy indrukwekkende klipmure sal hardloop. Haar marathon neem haar verder tot by die Skatkis tot by die Jordaanse woestyn.
Daarna volg die Lost City Marathon in Mexico en 'n marathon op die groot muur van China. Sy wil ook die Run Rome The Marathon in Italië aanpak, 'n marathon in Rio de Janeiro, Brasilië waar sy tot by die Christ the Redeemer-beeld hardloop. Haar volgende marathon is die 26.2 Mile Inca Trail Marathon in Peru tot by die Machu Picchu, 'n 15de-eeuse Inka-sitadel, geleë in die Oos-Cordillera van suidelike Peru, en laastens wil sy ook die Agra Taj Half Marathon doen waar sy verby die Taj Mahal in Indië hardloop.
BackaBuddy-veldtog
Geldré het 'n BackaBuddy-veldtog begin om fondse in te samel vir Eljada Nasorgsentrum.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’