OUDTSHOORN NUUS - Indien jy ’n voorliefde het vir geskiedenis en besondere argitektuur, is Oudtshoorn die perfekte plek om ’n historiese wandeling te neem en van die mooiste sandsteengeboue, katedrale, sinagoges en huise op jou eie tyd te ontdek.
Daar is ook talle voorbeelde van die manjifieke Volstruisveerpaleise, ryklik versier met treffende gietystertraliewerk. Sandsteen is plaaslik uitgegrawe, was maklik bekombaar, en is as voorkeurboumateriaal gebruik.
Die vaardigheid van Skotse klipbouers wat ingevoer is vir die bou van die NG Moederkerk is baie opmerklik.
’n Aantal uitmuntende argitekte waaronder George Wallis, Charles Bullock en JE Vixseboxse het hulle plaaslik gevestig.
Teen 1914, met die ineenstorting van die volstruisbedryf, het hulle reeds ’n groot bydrae gelewer om ’n eiesoortige argitektoniese erfenis na te laat. Hierdie erfenis weerspieël die prag en praal van die Volstruisveerbloeitydperk van 1860-1914.
Belangrikste sandsteenlandmerke en argitektoniese erfenis in die dorp:
• Dorpshuis, Hoogstraat 146, tans aanvullend tot die CP Nel-museum.
• NG Kerk, Hoogstraat, 1860-1879.
• Landdroskantoor hoek van Hoog- en Kerkstraat,
• Standard Bank 1904.
• Presbiteriaanse Kerk en pastorie, Baron van Reedestraat 43, kerk 1923, pastorie 19de eeu.
• St Jude's Anglikaanse Kerk-kompleks, Baron van Reedestraat 57 - 61, kerk 1860, pastorie 1861.
• Victoria-gedenksaal 1904, skool 1901, LW Botha-huis, 19de eeu.
• Tuishuis 1862, oorspronklike Country Club in die dorp.
• Gottland-huis, Baron van Reedestraat 72, 1902.
• Metodiste Kerk en pastorie, St Savioustraat 77, Kerk 1889 - 1915.
• CP Nel-museum, Baron van Reedestraat 3, 1906, oorspronklike 'Boys High School, Gimnasium.
• Arbeidsgenot, Jan van Riebeeckweg 217, 1898 tuiste van CJ Langenhoven.
• Swaaibrug in Kerkstraat, 1913.
• Rooms-Katolieke Katedraal, Baron van Reedestraat 78, 1964.
• St Saviour Katedraal.
• Sinagoge-kompleks, Baron van Reedestraat 83, Sinagoge 1888, Joodse klub, Hebreeuse skool en rabbi se huis.
• Mimosa Lodge, Baron van Reedestraat 85, 1907.
Historiese en geskiedkundige begraafplase
• Oudtshoorn-begraafplaas, Condorstraat, alle Kerkgenootskappe, oorlogsgrafte.
• Badstraat-begraafplaas, eerste Anglikaanse begraafplaas.
• Mark-begraafplaas, Kerkstraat.
• Olivier-grafkelder, perseel van Hoërskool Oudtshoorn.
(Bron: Friends of the CP Nel Museum brosjure)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’