OUDTSHOORN NUUS - Die vyf maande oue Zalia Labuschagne van Oudtshoorn veg tans in die George-hospitaal om haar lewe veg nadat sy met chroniese neonatale sepsis gediagnoseer is.
Zalia is op 31 Januarie in die George-hospitaal gebore ná ’n traumatiese bevalling wat haar ma, Carina, moes deurmaak.
Reeds die dag ná sy ontslaan is, het Carina opgemerk dat haar dogtertjie sukkel om asem te haal, en het sy haar terug hospitaal toe geneem.
Sedertdien is die gesin gereeld daar in en uit.
Volgens Carina het die dokters aanvanklik vermoed dat Zalia aan respiratoriese sinsitiale virus (RSV) ly. Sy is met ’n asemhalingsmonitor toegerus wat die alarm gee wanneer sy ophou asemhaal.
“Dit het verskeie kere gebeur. Dan moes ons haar op haar sy draai en liggies in haar mond in blaas. As dit nie gewerk het nie, het ons haar dadelik hospitaal toe geneem,” sê Carina.
Zalia se toestand het die afgelope naweek weer versleg, en sy is Sondag 28 Junie na die Oudtshoorn-hospitaal geneem. Sy is daarna na die George-hospitaal oorgeplaas, waar sy spesialisbehandeling ontvang.
Daar is sy met chroniese neonatale sepsis gediagnoseer. Dié toestand ontstaan wanneer die liggaam se reaksie op ’n infeksie tot wydverspreide inflammasie lei, wat ernstige komplikasies, insluitende orgaanversaking, kan veroorsaak.
Hoewel die meeste babas hierdie toestand ná die eerste maand ontgroei, het Zalia nie, omdat haar immuunstelsel, volgens haar ma, nie behoorlik funksioneer nie.
“Zalia het feitlik geen immuunstelsel nie, daarom keer die infeksie telkens terug,” sê Carina. “Haar suurstofvlak is tans 35% en sy ontvang suurstof- en binneaarse behandeling. X-strale het getoon dat haar longe vergroot is omdat hulle suurstof inneem, maar nie behoorlik vrystel nie. Haar lugweë is uiters sensitief, en selfs stof kan haar siek maak. Sy is ook erg geswel.”
Carina is sedert Sondag voortdurend by haar dogter se bed in die hospitaal terwyl die familie hierdie uitdagende tyd probeer hanteer.
“Dit is regtig traumaties om my kind so te sien lê met al die pypies rondom haar. Gelukkig reageer sy op die medikasie en het sy weer so ’n bietjie begin glimlag en gesels.”
Die gesin doen intussen ’n beroep op die gemeenskap om hulp. Omdat Zalia se swelling veroorsaak dat haar gewone klere nie meer pas nie, benodig sy tans veral babaklere in groottes ses tot 12 maande, asook doeke.
Indien jy ’n bydrae wil maak, skakel Xaviera von Molendorff by 072 446 1854 of Louise Mouton by 064 145 4457. Skenkings kan ook by die Oudtshoorn Courant-kantoor in Voortrekkerweg afgegee word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’