DE RUST NUUS - Een persoon is Woensdag-middag in hegtenis geneem na die ACVV se streekbestuurder: kinderbeskerming, Eunice Strydom, Saterdag in haar huis in De Rust aangeval en met 'n mes gesteek is.
Kaptein Gert Fourie, bevelvoerder van De Rust-polisiestasie, sê 'n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek.
Fourie het Woensdagmiddag die arrestasie bevestig.
Volgens Strydom was sy Saterdag in haar tuin besig toe 'n onbekende man by haar kom bedel het.
"Ek het vir hom gesê ek het nie geld of werk vir hom nie en hy is daar weg. Ek is toe in die huis in, maar toe ek kort daarna by die kamer uitkom, staan die man daar. Hy het vir my gesê ek moet vir hom geld gee of hy maak my dood."
Volgens haar het daar 'n struweling tussen haar en die man ontstaan en sy is in die proses vier keer agter haar nek met die mes gesteek. Sy het ook wonde aan haar hande opgedoen soos sy haarself probeer verdedig het. Sy het steke in drie van die wonde gekry.
"Ek het regtig gedink ek gaan dood. Ek was eintlik seker daarvan. Ek het my handsak vir hom gegee en hy is daarmee vort. Hy het niks eens verder gesteel nie. Ek het my paniekknoppie van die alarm gedruk en toe kom die buurvrou uitgehardloop en bel die polisie. Hulle was binne twee minute by die huis gewees."
Strydom is na die MediClinic Klein Karoo geneem en is Dinsdag ontslaan.
Strydom sê dit is net God se genade en die feit dat sy fiks is wat haar gehelp het. "Ek is 'n aktiewe mens, as ek nie fiks was nie sou die fisiese herstelproses nie so maklik gewees het nie. My geloof in God het my helder denke gegee om myself te kon beskerm en om die regte ding op die regte tyd te kon doen."
Strydom sê ten spyte van wat gebeur het, is sy nie kwaad nie.
"Ek is skrikkerig en ek het trauma om te verwerk, maar ek is nie kwaad nie.
"Woede versuur jou eie lewe, want die ander persoon weet nie eens jy is kwaad nie. Wat ek wel is, is dankbaar. Ek is so dankbaar ek leef. Ek het besef hoe kort die lewe is en hoe vinnig dit weggeneem kan word. Ek waardeer my kinders en my vriende nog meer. Ek waardeer ook myself nog meer en gaan definitief meer aandag aan myself begin gee," het sy gesê.
Strydom sê sy wil ook nie hê ander mense moet kwaad wees nie. "Ek het 'n tweede geleentheid op die lewe gekry en ek gaan dit voluit leef. Ek wil graag almal in De Rust wat so baie omgegee het, bedank. Ek wil ook die De Rust-polisie vir hulle fantastiese diens en die mooi manier waarop hulle die situasie hanteer, bedank. En ek wil ook die personeel van beide hospitale op Oudtshoorn bedank vir die feit dat hulle met soveel deernis met my gewerk het."
Kaptein Fourie het 'n beroep op die inwoners van de Rust gedoen en gevra dat mense nie geld of kos aan bedelaars moet gee nie.
"Dit sterk hulle in hul kwaad. Mense moet paraat wees en hul veiligheid in ag neem. Sluit die deure en veiligheidshekke te alle tye."
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'