OUDTSHOORN NUUS - Die 98ste bestaansjaar van die Volkskerk van Afrika in Oudtshoorn is die afgelope naweek met 'n boodskap gevier wat verder strek as net feesvieringe, dit is ook 'n oproep om God se goedheid te erken en te vier.
So het ds. Angelo Galant van die Volkskerk van Afrika Elsiesrivier Saterdag-oggend tydens die opening van die feesbasaar die gemeente toegespreek.
"Hierdie is 'n oomblik van herinnering, 'n tyd om stil te raak en dankie te sê vir God se talle seëninge oor ons lewens en ons geliefde gemeente. Laat ons onthou dat ware vreugde nie in omstandighede lê nie, maar in die Here self," het Galant gesê.
Hy het die geleentheid gebruik om die gemeente aan te spoor tot groter betrokkenheid en diensbaarheid.
"Te veel van ons het soos Christelike ornamente geword, ons is daar, maar nie werklik bruikbaar nie. Die Here roep die gemeente van die Volkskerk van Afrika Oudtshoorn om meer betrokke en bruikbaar te wees. Ons kan nie net mekaar binne die kerk ken nie, maar nie daarbuite nie. Elke lidmaat het 'n rol om te speel."
Tydens 'n kransleggingseremonie het die gemeenteleraar, ds. Ebraimilde Booysen, aan die stigters en voormalige leiers van die kerk sedert 1928, hulde gebring.
Die gemeente se geskiedenis strek oor byna 'n eeu. Die eerste kerkgebou was in Hoogstraat, Oudtshoorn, maar weens die Groepsgebiedewet van 1948 moes die gemeente verhuis na 'n saal in Wolfweg, Bridgton, bekend as die Daniel Janari-saal.
Die huidige kerkgebou in Zebraweg, Bridgton, is op 30 September 1978 amptelik in gebruik geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’