OUDTSHOORN NUUS - Die VLV Oudtshoorn-tak het tydens die pas afgelope VLV-streekkonferensie in Hartenbos twee gesogte trofeë teruggebring. Dit is die derde keer wat hulle dit regkry.
Oudtshoorn het die Glaskamera-trofee vir die tak met die meeste punte in kunste en handvlyt, asook die SWD-trofee vir die tak met die meeste punte algeheel op die konferensie ingepalm.
Die sirkel SWD-konferensie word elke jaar in Maart onder takke roteer sodat dit op verskillende plekke plaasvind.
Petro Doman, voorsitter, Oudtshoorn VLV-tak noem: "Die tak, wat tans uit 23 lede bestaan, het agt vlytige lede gehad wat besonder goed in albei die afdelings, kunste en handvlyt sowel as leefstyl presteer het. Met 'n totaal van 37 inskrywings het die lede 'n puntetotaal van 2 702 behaal.
Die tak het die trofeë verower vir die meese punte in kunste en handvlyt, en is ook as die algehele wenner van die konferensie aangewys. Die lang ure van fyn handwerk, kreatiwiteit en entoesiasme het gesorg dat die tak die trofeë vir die derde agtereenvolgende jaar inpalm."
Oudtshoorn VLV se konferensietema vir die jaar was, Ons krag lê in spanwerk. Doman beaam: "Dit is presies wat ons as tak gedoen het, as 'n span saamwerk en uitstekende resultate behaal."
Doman het 'n eerste plek behaal met handvlyt blommerangskikking, en Trienie Barnard met haar skilderkuns, Deure in olieverf. Die tak het verskeie tweede en derde plekke behaal. "Uit die 37 items is daar twee foto's, 'n rugsak van gebruikte denims, asook 'n koffie-en-tee skildery wat na die VLV kongres in Augustus in Gqeberha gestuur word vir verdere kompetisie teen ander sirkels," verduidelik Doman.
Die groep dinamiese vroue is reeds druk besig met hul volgende projek, 'n unieke paneel vir die opkomende KKNK.
Enige persoon wat wil aansluit by die Oudtshoorn VLV-tak is welkom om Doman by 072 306 8222 te skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’