OUDTSHOORN NUUS - Hannes Visser, voormalige Oudtshoorn Courant-redakteur, het Woensdagaand, 24 Junie, sy tweede digbundel, tussen asem, aan ongeveer 40 gaste bekendgestel.
Die funksie het by die Neelsie plaasgevind. Marisca Visagie het van sy gedigte getoonset en gesing.
Die nuwe bundel delf diep in die broosheid en betekenis van menswees. Volgens Visser is hy opgewonde daaroor.
Sy inspirasie vir die bundel spruit uit die laaste woorde van sy kunstenaarsvriend, wyle Lourens Oosthuizen: "My heel eerste asem was onafwendbaar die begin van my heel laaste asem."
Die bundel fokus op die asem van die lewe, nie net as begin en einde nie, maar ook op die reis tussenin.
Die werk is in drie afdelings verdeel: Eerste asem, Asemhaal en Laaste asem, waarin Visser besin oor temas soos verlies, vreugde, geboorte, dood en die gedeelde menslike ervaring wat tussen mense se lewensasems afspeel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’