OUDTSHOORN NUUS - Die eerste Netwerk24-gesprek van vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het Saterdagoggend, 28 Maart, gefokus op die politieke toekoms van Oudtshoorn en die keuses wat kiesers tydens die 2026-munisipale verkiesing in die gesig staar.
Die gesprek, gelei deur Jody Hendricks, het politieke verteenwoordigers van verskillende partye byeengebring om te besin oor dienslewering, koalisiepolitiek en watter regering die beste vir die dorp sal wees.
Chris Macpherson (DA-raadslid), Zoe Tyatya (onderburgemeester en ANC-raadslid) en Johan Allers (voormalige burgemeester en VF Plus-raadslid) het aan die paneel deelgeneem.
Suzane Jansen (PA) en Chad Louw van die People's Prosperity Movement was ook genooi, maar het voor die gesprek onttrek.
Fokus moet op dienslewering wees
'n Opvallende punt van ooreenstemming onder die drie paneellede was dat politiek nie oor posisies behoort te gaan nie, maar oor dienslewering en die welstand van die dorp. Al drie het ook erken dat koalisieregerings, veral waar baie klein partye betrokke is, die bestuur van 'n munisipale raad bemoeilik.
Hendricks het die gesprek afgeskop deur te vra waarom inwoners vir hul onderskeie partye moet stem en of 'n koalisie werklik beter funksioneer as 'n eenpartyregering.
Tyatya het verduidelik dat Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar beklemtoon het dat die ANC daarop fokus om plaaslike regering te versterk en te stabiliseer.
"Ons is op 'n pad van hernuwing. Oudtshoorn se politiek is dinamies, maar ons werk daaraan om die beloftes van 1994, 'n beter lewe vir almal, te verwesenlik. Dienslewering moet verbeter, paaie moet herstel word, watersekerheid moet verseker word en die kwesbaarstes moet beskerm word," het hy gesê.
Allers het daarop gewys dat die VF Plus, hoewel 'n kleiner party, groei toon.
"'n Klein groep mense wat werklik 'n verskil maak, is meer werd as 'n groot groep wat niks bereik nie. Met drie raadslede het ons in 'n kort tydjie beduidende bydraes gelewer. Kiesersteun volg wanneer dienslewering sigbaar is."
Hy het egter saamgestem dat gefragmenteerde rade besluitneming bemoeilik en voorgestel dat partye met soortgelyke waardes reeds voor die verkiesing moet besluit oor moontlike samewerking.
Minderheidsregering bring uitdagings
Macpherson is gevra hoe uitdagend dit is om in 'n minderheidsregering te regeer. Volgens hom gaan stemgedrag nie net oor watter party gekies word nie, maar oor die waardes waarvoor kiesers stem.
Hy het verwys na partye wat met korrupsie en wanbestuur verbind word en gevra of inwoners sulke partye met die bestuur van hul dorp wil vertrou.
Volgens Macpherson is 'n volstrekte meerderheid noodsaaklik om stabiliteit te verseker.
"Kleiner partye kan 'n raad gyselaar hou. Sonder 'n meerderheid word groter partye dikwels gedwing om toegewings te maak om te kan regeer."
Tyatya het bygevoeg dat Suid-Afrika 'n demokrasie is waar kiesers vry is om te stem soos hulle wil, maar dat 'n raad met te veel partye dikwels tot onstabiliteit lei.
"Kleiner partye wil dan die grootste deel van die koek hê, wat voortdurende onderhandelinge en onsekerheid veroorsaak," het hy gesê, en kiesers aangemoedig om ingeligte keuses te maak en partye met duidelike manifeste te ondersteun.
Wat is die beste vir Oudtshoorn?
Ten spyte van politieke verskille was die paneel dit eens dat die fokus weg moet skuif van politieke posisies en terug na dienslewering.
Die sentrale vraag wat uit die gesprek na vore gekom het, bly egter: wat bied politieke partye vir Oudtshoorn in 2026?
Het die koalisieregerings werklik dienslewering verbeter, of sal 'n eenpartyregering groter stabiliteit en vooruitgang vir die Klein-Karoo-dorp bring?
Volgens die paneellede lê die antwoord uiteindelik by die kiesers self, want soos dit gestel is: jy kry die regering waarvoor jy stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’