OUDTSHOORN NUUS - As deel van Vrouemaand-vieringe het die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) Sektor 3 Dinsdagoggend, 12 Augustus, 'n groep dames van Bridgton met 'n uitstappie na die Cango Wildlife Ranch bederf.
Die dames is tydens die geleentheid toegespreek deur Leoni Fourie, wat 'n inspirerende boodskap gedeel het oor die verskillende seisoene van die lewe.
Sy het dit vergelyk met die natuurlike verloop van lente, somer, herfs en winter, elkeen met sy eie skoonheid en betekenis.
Volgens Fourie is die jong jare die tyd waarin mense blom met energie; die middeljare fokus opbou, sorg en vorming; en in die later jare dra 'n mens wysheid soos 'n kroon. "Net soos herfsblare die mooiste kleure bring, bied die latere seisoene van die lewe die rykste skoonheid, ervaring, veerkragtigheid en diep insig," het sy gesê.
Sy het beklemtoon dat 'n mens se waarde nie deur ouderdom bepaal word nie, maar deur die lewenspad en bydraes wat gemaak is. Fourie het Spreuke 16:31 aangehaal: "Gryser hare is 'n kroon van prag; dit word verkry op die pad van geregtigheid."
Fourie het ook herinner dat elke hand vol plooie 'n verhaal dra, hande wat kinders getroos, hard gewerk, maaltye voorberei en trane afgevee het. Sy het die bydrae van vroue tot gesinne, gemeenskappe en selfs vreemdelinge uitgelig, en hulle geloof, waardes en lewenslesse as 'n nalatenskap aan die volgende geslag beskryf.
"Die sade wat jare gelede geplant is, groei steeds in die lewens van dié wat julle geraak het. Hierdie seisoen van die lewe kan gevul wees met vreugde, lag en doel. En jy is nooit te oud om iets nuuts te leer of jou wysheid te deel nie," het Fourie afgesluit.
Elke dame het 'n kroon ontvang as simbool dat hulle koninginne in hul eie reg is. Die groep het met groot entoesiasme deelgeneem aan die begeleide toer, waar verskeie diere besigtig is, sommige wat baie van die dames nog nooit voorheen van so naby gesien het nie. Die jagluiperds en leeus was veral 'n hoogtepunt en het groot byval gevind.
Na afloop van die toer is die dames met 'n heerlike ete bederf. Adjudant-offisier Jacinda April (sektorbestuurder), ao. Jan Combrick, ao. James Bowers en Marlene Thompson, voorsitter van sektor 2, GPF sub-forum het ook aan elke deelnemer 'n Bybel met 'n simboliese olyftakkie oorhandig.
Fotogalery: GPF bederf dames met 'n uitstappie na Cango Wildlife Ranch
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’