Verskeie interessante voertuie kom onder die hamer, soos 'n 1953 GAZ 69, 'n Russiese 4x4 oorlogsvoertuig waarvan daar slegs 671 gebou is. Sover vasgestel kon word bestaan daar wêreldwyd slegs 39 van hierdie voertuie. Hierdie een is in 'n erg verwaarloosde toestand uit 'n sloot 'gered' en tot sy eertydse glorie gerestoureer.
Ander voertuie sluit in:
- 'n 1910 Model T, 'n replika van die Britse model,
- 'n 1934 Chev 2.5 ton trok,
- 'n 1964 blou sessilinder 2.3 liter Chev Chevelle met 'n wit dak en 'n
- 1981 Cadillac Coupe De Ville met 'n 7.2 liter, V8-enjin wat op loodvrye brandstof geloop het wat ingevoer moes word - wat vandag natuurlik nie 'n probleem is nie.
Een van die gewildste voertuie is 'n twee-deur 1981 Datsun 280 ZX, met net 107 000 km op die meter. Linda Phillips, Mej. Suid-Afrika 1981, het so 'n sportmotor as een van haar pryse gewen in die skoonheidskompetisie.
Naas verskeie ander veteraan-voertuie wat op die veiling aangebied word, kom twee motorbote met Yamaha-enjins en eie sleepwaens, 'n toesluitsleepwa en 'n swaardiens-sleepwa, ook onder die hamer.
Rawson Auctions Oudtshoorn gaan voortaan maandeliks soortgelyke veilings, bekend as 'Sale by Auction', hou, waarop enige item in werkende toestand opgeveil kan word.
"Dit is nie 'n gedwonge veiling waar die eienaar genoodsaak is om van sy eiendom ontslae te raak nie, maar eerder 'n vinnige manier om iets van die hand te sit en in die proses ook die hoogste prys haalbaar te kry vir die eienaar," verduidelik Alma Swart, bestuurder van Rawson Auctions Suid-Kaap.
Belangstellendes kan Saterdag 1 Februarie vanaf 10:00 by die Oudtshoorn-vliegklub regi-streer vir die veiling en van 11:00 af die voertuie besigtig. Die veiling begin stiptelik om 14:00.
Kontak Alma Swart by 083 657 5411 vir 'n lys van al die voertuie op die veiling. Voornemende kopers is ook welkom om 'n aanbod op 'n spesifieke item te maak.
Rig navrae oor toekomstige veilings en registreer items daarvoor by Alma Swart by bogenoemde telefoonnommer en of epos.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'