OUDTSHOORN NUUS - Leerders en personeel van Eljada Kairos Skool het Dinsdagoggend deur Oudtshoorn se strate met plakkate gestap om die kollig te gooi op Wêreld Downsindroomdag wat vandag gevier word.
Downsindroomdag word sedert 2007 elke jaar op 21 Maart gevier. Die 21ste dag van Maart is gekies om die uniekheid van die verdubbeling van die 21ste chromosoom wat downsindroom veroorsaak, aan te dui.
Mense kan Downsindroomdag Vrydag ondersteun deur ’n onpaar sokkies of helder sokkies aan te trek.
Volgens die Verenigde Nasies kom downsindroom by 1 uit ’n 1 000 geboortes wêreldwyd in ontwikkelende lande voor. Tussen 3 000 en 5 000 kinders word jaarliks geraak deur die genetiese afwyking. Downsindroom (of trisomie 21) is ’n genetiese afwyking weens abnormale seldeling wat tot gevolg het dat ’n persoon een ekstra chromosoom by die 21ste chromosoompaar het, dus drie chromosome by posisie 21 in plaas van twee.
Downsindroom is ’n lewenslange toestand en dit kan nie verander word nie.
Ouers kan kinders met downsindroom egter met spraak-, arbeids- en fisioterapie help om hul fisiese en intellektuele vermoëns te verbeter. Solidariteit se mediese netwerk is van mening dat mense met downsindroom nie gestremd is nie, maar eerder anders bekwaam is.
By Eljada Kairos Skool is die kinders deel van daaglikse aktiwiteite wat hul selfvertroue opbou en deel maak van die spesiale skool.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’