OUDTSHOORN NUUS - Motorfietsryers van die Tuinroete en Klein-Karoo kan Sondag 24 Mei opsaal vir die jaarlikse Ride for a Child-rit.
Die rit word jaarliks deur die MOTH Motorcycle Association in die Suid-Kaap gereël.
Daar is vyf MOTH Shellholes wat deur weermagveterane onderhou word, in die streek; Oudtshoorn, George, Mosselbaai, Sedgefield en Knysna. Talle van die lede is ook motorfietsryers.
Anthony van Tonder, distriksadjudant van MOTHS in die Suid-Kaap en voorsitter van die Tuinroete se MOTH-motorfietsklub, sê hulle het besluit om met vanjaar se rit geld in te samel vir die mediese sorg van Caleb van Wyk.
Ongeveer twee maande gelede het dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa 7 000 km op sy motorfiets afgelê om geld vir Caleb in te samel.
"Hierdie is ons derde Ride for a Child, en ons nooi alle motorfietsryers uit om deel te wees van hierdie geleentheid om Pediatric Care Africa by te staan met hulle projek om klein Caleb se mediese koste van 'n breinopersie te ondersteun," het Van Tonder gesê.
Hattingh het bevestig dat hy ook die rit gaan meemaak en nooi motorfietsryers van die Klein-Karoo om Sondagoggend, 24 Mei, saam met hom na George te ry. "Ek vertrek om 08:00 van Naguil by Rainbow Motors net buite Oudtshoorn, en dit sal fantasties wees as al die motorfietsryers van die Klein-Karoo saam sal ry."
Motorfietsryers se finale eindpunt is die Life Connect Church in Derdelaan George-Oos om 10:00 waar 'n kerkdiens sal plaasvind. Na afloop van die diens is daar 'n sosiale samekoms by die MOTH Outeniqua Shellhole in Rijk Tulbachstraat, Loeriepark, George.
Van Tonder sê dat kollektebussies 'n ruk gelede aan elk van die vyf Shellholes gegee is waar mense reeds donasies ingooi. Die bussies gaan Sondag ook beskikbaar wees vir bydraes.
Die MOTH Motorcycle Association het ook verlede jaar se Toy Run gereël en onderneem gereeld liefdadigheidsprojekte in die Tuinroete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’