OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man wat daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n 11-jarige seuntjie seksueel aangerand het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging van Michael Kleinbooi gesê hy is aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind en dat die hof ’n vonnis moet oplê wat nie net vir hom nie, maar ook andere moet afskrik.
Hy is aanvanklik aangekla van verkragting, maar is nie daaraan skuldig bevind nie.
Hy was in ’n vertrouensposisie omdat die kind hom goed geken het, en hy het dit misbruik. Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om Kleinbooi direkte tronkstraf op te lê omdat dit die enigste gepaste vonnis sal wees.
“Verswarend is die feit dat die beskuldigde ook in 2007 aan verkragting skuldig bevind is en toe vyf jaar tronkstraf opgelê is. Kinders se regte moet beskerm word en daarom word swaarder vonnisse voorgeskryf,” het die landdros gesê.
Die hof het gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’