TUINROETE NUUS - Twee mans van Thembalethu, George, wat vir handeldryf in dagga skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof gevangenisstraf van onderskeidelik agt en tien jaar opgelê.
Lusando Gando (31) en Thando Mgobo (34) is meer as ses jaar gelede, op 14 Desember 2013, op die R62 naby Rietfontein, Calitzdorp, in hegtenis geneem nadat die polisie 99 kg dagga met 'n straatwaarde van meer as R146 000 in hul voertuig gevind het.
Die twee se regsverteenwoordigers, Wenzel Botha en Vaughn Shone, het die hof vir opgeskorte vonnisse gevra, terwyl die staatsaanklaer, Hyron Goulding, direkte gevangenisstraf versoek het.
Streeklanddros Retha Pretorius, het met vonnisoplegging gesê die enigste gepaste vonnis vir die misdaad is direkte gevangenisstraf omdat dwelmhandelaars groot geld maak en dat mense wat aan dwelms verslaaf word, misdaad pleeg en gemeenskappe vernietig.
Mgobo is gevonnis tot tien jaar en Gando tot agt jaar omdat hy vir langer as twee jaar in aanhouding was.
Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'