OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, te same met lede van die toerismebedryf in die Klein-Karoo en Tuinroete, het verlede week verskeie besienswaardighede in Oudtshoorn besoek.
Dit is as deel van Toerismemaand, wat jaarliks in September gevier word, gedoen.
'n Suid-Afrikaanse toerismegroep het ook verlede week Oudtshoorn besoek as deel van Toerismemaand.
Volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekomitee, is die besienswaardighede soos Buffelsdrift, Cango Wildlife Ranch en Latana Cheese besoek om ander dorpe se toerismekantore se personeel in te lig oor wat in Oudtshoorn aangaan.
"Op die manier kan hulle teruggaan na hulle tuisdorpe en besoekers by hulle kantore inlig oor ons besienswaardighede.
"Dit sluit dan die inwoners sowel as die toeriste in. So 'n toer is van onskatbare waarde omdat dit kan help om nog meer voete in Oudtshoorn te kry," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'