OUDTSHOORN NUUS - Petra du Toit en haar span vrywilligers is bekend in Oudtshoorn vir die werk wat hulle met hul opgeleide terapiehonde, veral by tehuise en skole doen.
Vyf van die sewe terapiehonde het Sondag 6 Julie baie goed gevaar tydens die erkende KUSA (Kennel Union of South Africa) Canine Good Citizens bronstoets.
Die volgende hanteerders met hul honde het geslaag:
El-Marie van der Merwe se rottweiler, Amber en Deense hond, Charles.Rosa van der Merwe se rottweiler, Adriaan.
Petra du Toit met haar Swart Russiese terriër, Kolya.
Tanja Grensing met haar golden retriever, Sahara.
Abigail Nel met haar yorkshire terriër, Gigi.
Elmien Swanepoel met haar golden retriever, Klare het nog twee oefeninge wat hulle moet verbeter.
Die program is ’n internasionaal erkende standaard wat ontwerp is om verantwoordelike hondebesit, en goeie gedrag by honde aan te moedig. In gesprek met Du Toit verduidelik sy dat in Suid-Afrika word hierdie program aangebied deur KUSA en is die brons-vlak die eerste formele vlak van die CGC-program (na afloop van die babahondtoets) en fokus op basiese gehoorsaamheid, sosialisering en algemene hantering in die alledaagse lewe.
“Die toets bestaan uit verskeie praktiese en teoretiese komponente waar die hond en sy eienaar (die hanteerder) beoordeel word op gedrag, gehoorsaamheid en hantering in alledaagse situasies. ’n Geregistreerde KUSA-beoordelaar neem die toets af.
Die toets is nie ’n kompetisie nie, daar is geen wenners of tellings nie. Die fokus is op slaag of hersiening, en die doel is om te verseker dat elke hond voldoen aan ’n sekere minimum gedragsvlak.”
Slegs honde wat al die komponente suksesvol slaag, ontvang die CGC bronssertifikaat en -kenteken van KUSA.
Volgens haar is die CGC-toets belangrik aangesien dit nie slegs ’n bewys is van ’n hond wat hom goed gedra nie, maar dien ook as ’n sterk basis vir verdere opleiding, soos vir terapiehonde, werkshonde, sport, of net ’n gelukkige hond. “Dit bevorder veilige, beheerde gedrag in openbare ruimtes, en help eienaars om hul honde se volle potensiaal te ontwikkel.”
Die volgende vlakke sluit in silwer en goud wat voortbou op die beginsels van die bronstoets. Goud is die hoogste vlak van die program en fokus op volwasse gedrag, volle beheer en voorbeeldige sosiale vaardighede.
Du Toit sluit af deur te noem dat die CGC brons-, silwer- en goudtoetse waardevolle mylpale is. “Dit bevestig dat jou hond ’n betroubare metgesel is in die samelewing, gehoorsaam, sosiaal en onder beheer, en bo alles, is dit ’n wonderlike manier om jou verhouding met jou hond te verdiep.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’