OUDTSHOORN NUUS - Die warm Karoohitte het nie hanteerders en honde afgesit vir ’n evalueringsessie op Volmoed nie.
Petra du Toit van Caring Friends Therapy Dogs het ’n paar honde geëvalueer wat reeds deel is van die spesiale program.
Omdat die honde met kinders en bejaardes werk moet hulle vir goeie gedrag en geskiktheid evalueer word. In April sal die honde ’n Canine Good Citizens-toets ondergaan wat deur ’n amptelike KUSA-beoordelaar evalueer word. Van die honde het reeds in 2025 in George hul bronsvlak behaal. Van die honde moet nog net een of twee oefeninge voltooi om na silwerklas te vorder.
Caring Friends Therapy Dogs is ’n geregistreerde niewinsgewende organisasie wat in die Vaaldriehoek gestig is en sedert 2009 aktief is. Die organisasie fokus daarop om emosionele ondersteuning, troos en positiewe mens-hond-interaksies te bied in omgewings soos hospitale, skole, sorgsentrums en gemeenskappe.
Du Toit verduidelik dat omdat terapiehonde met kwesbare mense werk, is deeglike evaluering van potensiële honde noodsaaklik.
“Nie alle vriendelike honde is geskik vir terapiewerk nie. Honde moet emosioneel stabiel wees, goeie impulsbeheer hê en kalm kan bly in nuwe en soms onvoorspelbare situasies. ’n Behoorlike assessering beskerm beide die hond se welstand en die veiligheid van die mense wat hulle besoek, en verseker dat slegs geskikte honde vir hierdie belangrike werk gebruik word.”
Terapiehonde word spesifiek opgelei om emosionele ondersteuning te bied aan mense in verskillende lewensomstandighede. Honde het die unieke vermoë om bystand en troos te verleen aan persone wat dit die nodigste het.
Eie honde en deeglik geëvalueer
Die groep vrywilligers gebruik hul eie honde, wat vooraf deeglike evaluering en toetsing ondergaan het. “Ons kan nie aggressiewe honde as terapiehonde gebruik nie, daarom is elke hond se vriendelike en kalm geaardheid van kardinale belang. Terapiehonde help boonop met die bevordering van sosiale vaardighede en verbeter fisieke interaksie tussen studente, hul portuurgroep en onderwysers,” verduidelik Du Toit.
Positiewe impak
Du Toit beklemtoon die positiewe impak wat sulke besoeke op bejaardes, gestremdes en kinders het. “Ons is elke keer opreg dankbaar dat ons iemand se dag op hierdie manier kan ophelder. Daar is baie bewyse dat honde geestelike en emosionele gesondheid verbeter, veral vir mense wat angstig is of met depressie sukkel,” sê sy.
Die honde is opgelei om verskeie instellings, soos hospitale, skole en ouetehuise, te besoek. Terapiehonde is kalm en goed aangepas vir onbekende, besige omgewings, selfs waar harde geluide en beweging voorkom.
Enigiemand in Oudtshoorn wat belangstel om by Caring Friends Therapy Dogs aan te sluit, kan vir Petra du Toit kontak by 082 627 6201.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’