OUDTSHOORN NUUS - ’n Mylpaalverjaarsdag is Saterdag 16 Augustus in Koeriesweg, Dysselsdorp, gevier toe tannie Lettie Rabie 102 kersies op haar koek kon uitblaas.
Lettie, ’n merkwaardige en geliefde vrou, is in 1924 op ’n plaas in Nelsrivier gebore en het daar grootgeword.
Sy het nooit die geleentheid gehad om skool te gaan nie, maar het haar jong jare gewy aan werk by die Snyman-familie. In 1979 het sy saam met haar man, Jan, na Dysselsdorp verhuis.
Die egpaar is met vier kinders, vier seuns en vier dogters, geseën. Jan is in 2011, op 89-jarige ouderdom, oorlede.
Tannie Lettie se gesin het intussen uitgebrei tot ’n ware nageslag: sy geniet die geselskap van haar drie oorlewende seuns en drie dogters, 19 kleinkinders, 35 agterkleinkinders en selfs 10 agter-agterkleinkinders.
Hoewel haar gehoor met die jare verswak het, bly haar geheue skerp en word sy in haar lewenslustige huishouding met liefde en sorg omring. Wanneer sy gevra word na die geheim van haar lang lewe, antwoord sy eenvoudig: “Harde werk.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’