OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn het rede om trots te wees nadat Patat Restaurant by Swartberg Country Manor met 'n gesogte Platinum-toekenning vereer is tydens die 2025 Diners Club South Africa Winelist Awards.
Die jaarlikse toekennings, wat reeds meer as drie dekades lank aangebied word, erken uitnemendheid in Suid-Afrika se gasvryheidsbedryf en word slegs aan ondernemings toegeken wat uitsonderlike standaarde in kos- en wynervaring handhaaf.
Toekennings word in vyf vlakke toegeken: silwer, goud, platinum, diamant en die hoogaangeskrewe Icon-toekenning, wat internasionale uitnemendheid simboliseer.
Vir die span van Swartberg Country Manor verteenwoordig die Platinum-erkenning veel meer as 'n trofee. Dit is die vrug van jare se toewyding, passie, deursettingsvermoë en liefde vir wat hulle doen.
Volgens Leoni Fourie, bestuurder van Swartberg Country Manor, strek hul visie verder as net kos en wyn.
"Dit gaan oor die ervaring, oor mense en oor die stories wat ons deur elke gereg vertel."
By Patat Restaurant, die kulinêre hart van die landgoed, word hierdie filosofie daagliks uitgeleef. Die fokus val op die perfekte harmonie tussen kos en wyn, waar elke gereg sorgvuldig met 'n wyn gekombineer word om geure te versterk en te verdiep.
Die spyskaart vier plaaslike tradisie en kreatiwiteit, met disse soos sappige Karoo-lam, kenmerkende volstruisgeregte en vernuwende Suid-Afrikaanse gunstelinge, onder meer bobotie-rolletjies, alles voorberei met fyn aandag aan detail en 'n sterk klem op plaaslike bestanddele.
Volgens Fourie is die Platinum-toekenning nie net 'n mylpaal vir Swartberg Country Manor nie, maar ook 'n bewys van wat moontlik is wanneer 'n klein dorpie groot droom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’