LADISMITH NUUS - Die bekende Suidoosterfees het 'n nuwe voorsitter vir sy direksie aangewys. Nie alleen is Azelia Morkel die eerste vrou as voorsitter in die fees se 22 jarige bestaan nie, maar sy is ook afkomstig van die bekende kaasdorp, Ladismith in Kannaland.
Azelia Morkel, kanaalhoof van VIA, sê sy is trots op waar sy vandaan kom.
"Alles wat ek ken, is daar geplant, en ek is so dankbaar vir almal wat my opgewon-denheid deel," vertel sy.
Morkel vertel dat haar moeder en die kerksusters op die plaas Hoeko, waar sy grootgeword het, sterk en standvastige rolmodelle was.
"Hulle het my geleer om nie te vra: 'Hoekom ek?' nie, maar eerder: 'Hoekom nie ek nie?', en om elke taak met selfvertroue aan te pak."
Haar boodskap aan vroue in die Klein-Karoo is duidelik: Jou waarde lê nie in wat met jou gebeur het of waar jy vandaan kom nie, maar in wie jy ís.
"Vroue moet nie ophou droom omdat hulle van klein dorpies kom nie.
"Dit is juis hierdie dorpies wat warmte en liefde bied wat jou dra en jou groei ondersteun," sê sy met oortuiging.
Volgens haar het vroue uit die Klein-Karoo die vermoë om met min baie te vermag.
"Elke vrou moet weet sy verdien lig, liefde en vryheid."
Sy leef volgens 'n leuse wat haar koers bepaal: "Hou jou hart sag, jou ruggraat sterk en jou kop klein."
Dit help haar om met deernis te werk, maar ook ferm standpunt in te neem wanneer dit nodig is.
Morkel vertel verder dat sy vroeg geleer het om planmatig te leef en om sake buite haar beheer aan haar Skepper oor te laat, iets wat altyd ten goede meegewerk het.
"As my reis by die Suidoosterfees iemand anders kan aanmoedig om hul eie waarde en moontlikhede raak te sien, is dit vir my genoeg. Ek word daagliks geïnspireer deur ander se stories, en dit hou my aan die beweeg."
Morkel se verhaal bring nuwe hoop aan vroue in streke waar dit soms moeilik is om selfs 'n klein straaltjie hoop raak te sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’