OUDTSHOORN NUUS - Eljada Nasorgsentrum in Oudtshoorn het Sondag 15 September 'n groot finansiële hupstoot gekry vanaf die Nomads Suid-Kaap Gholfklub in die vorm van R170 000 wat aangewend sal word om nodige toerusting vir die sentrum aan te koop.
Gerda Swart, bestuurder van die Eljada Nasorgsentrum, het die skenking na afloop van die dag se gholf in ontvangs geneem. In gesprek met haar noem sy dat die ongelooflike gebaar haar heeltemal onkant gevang het en dat dit 'n groot geskenk is, aangesien die sentrum hierdie jaar hul 50ste bestaansjaar vier.
Gholf vir 'n goeie doel
Tydens die maandelikse gholfdag van die Suid-Kaap Nomads kon die komitee van Andrew Mentis-uitkeerfonds 'n bedrag van R170 000 aan Eljada Nasorgsentrum skenk. Daar is 12 Nomads-klubs in die land, en elke klub kies elke jaar 'n nie-winsgewende organisasie wat oor 'n geldige NPO-nommer beskik as 'n begunstigde.
Fondse word ingesamel deur middel van veilings en lootjie verkope tydens die maandelikse gholfdae.
Daar word ook jaarliks 'n Andrew Mentis-gholfdag gehou vir die insameling van fondse. Nasionale Borge (SAB en Hollywoodbets) dra ook by tot die fonds en 'n bedrag word ontvang van die Andrew Mentis-Fonds.
Fanus Truter, onderkaptein en borgskappe Suid-Kaap Nomads, verduidelik dat die begunstigde 'n wenslys moet instuur van items wat hulle benodig, en die items word dan vir die organisasie aangekoop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’